Die
Kennis van God as die Drieënige – opklaring oor die kennis
God
is die onbegryplike. As dit nie so was nie, sou Hy nie God of die
Aanbiddelike kon wees nie. Immers, die eindige kan die Oneindige nie omvat nie. Hieruit
het baie die oorhaastige gevolgtrekking gemaak dat God om die rede ook
onkenbaar is. Maar as God geheel en al onkenbaar was, sou ons ook geen
reg gehad het om te beweer dat Hy onbegryplik is nie. Wie enigiets oor
God wil bely, moet Hom ken. So nie is die inhoud van die belydenis uit
die lug gegryp.
Ons
ken God, soos ons nou weet, uit die feit dat dit Hom behaag het om Homself aan
ons te openbaar en van hierdie selfopenbaring van God is die Heilige
Skrif die enigste en volstrek betroubare oorkonde. Dit beteken dat ons
God ook net kan
ken vir sover as wat die Openbaring strek en enkel uit die Heilige Skrif.
Wie meer wil weet, is dwaas en goddeloos.
Uit
die voorgaande kan
ons aflei dat daar twee eienskappe is wat aan alle waaragtige Godskennis toekom.
Die eerste word gewoonlik uitgedruk met die enigsins vreemde term:
Inadekwaat. Daarmee wil ons te kenne gee dat ons God nooit ten volle kan ken nie. Soos
wat God Homself ken, kan
geen sterweling op hierdie aarde Hom ken nie. Maar ‘n ander ewe fundamentele
eienskap van die Godskennis waaraan ons moet vashou is die waarheid en die
betroubaarheid daarvan. Dit is inderdaad so dat ons van die grote God
maar heel weinig weet, ja dat Hy ons begrip, ons taal, selfs ons aanbidding
oneindig ver te bowe en te buite gaan. Van beide Gods Openbaring in die
natuur en die Skriftuur geld die treffende woorde van Job aan die einde van
hoofstuk 26: Kyk, dit is maar uitlopers van sy weë, en wat ‘n
fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy
magtige dade verstaan?
Aan
die ander kant – en dit is van net soveel betekenis – is hierdie kennis
suiwer. Dit wil sê, sover as wat dit strek, kan ons op hierdie kennis bou. God
self en die waarheid en betroubaarheid van Sy Woord is hiervoor die waarborg.
Ons kan derhalwe met vrymoedigheid beweer dat
hierdie onvoldoende Godskennis die mees betroubare kennis is waaroor die mens
op aarde kan
beskik. Dit kan groei en eenmaal oorgaan
in aanskouing maar verander kan
dit nooit. Wat ten dele is, kan en sal
volkome wees, maar ons Godskennis sal nooit die diepte van God kan peil of omvat nie.
Dit beteken dat ons God nie deur die geloof, as algemeen menslike vermoë leer
ken nie, maar wel en uitsluitlik deur die saligmakende geloof, wat die
skuldvergiffenis deur die soendood van die Heiland insluit. En as ons
hier spreek van insluit, dan bedoel ons dit in die sin dat ook dit nie abstrak
en in die algemeen verstaan mag word nie. Dit gaan oor my persoonlike
versoening met God deur die kruis van Sy Seun. So, en so alleen kan daar van ware
Godskennis sprake wees. Dit sal eerder beteken dat die woord vir die
gelowige nie maar ‘n boek is vol van allerhande godsdienstige
wetenswaardighede, waaronder ook inligting oor die Persoon, die Wese en die
werke van God nie. Dit is ‘n lewende boek, waarin die sprekende God ons
self teëkom. Dit is, soos wat iemand dit gestel het, die Boek van
ontmoetinge.
Dit
behoort tans vir ons duidelik te wees in watter sin daar vir die ware
Christenmens sprake kan
wees van die kennis van God. En so sal ons ook verstaan dat die “god” van
die filosowe vir ons ‘n afgod is, tensy dat ons wysbegeerte en wetenskap begin
met die vrese van die Here, waarin die beginsel van die wysheid is. Maar
in so ‘n geval word daar ook nie oor God gefilosofeer nie. Selfs die
teologie moet hier uiters versigtig wees sodat die aanbiddende grondstemming
nie verwaarloos word nie. Ons het dit immers met die lewende God te
doen. En van Hom geld die woord uit Job: Oor God is daar
ontsagwekkende majesteit.
God
is wel kenbaar vir die mens maar slegs uit Sy Selfopenbaring en deur die
geloof. Aan hierdie waarhede moet ons vashou as ons met vrug oor die
Drie-eenheidsleer wil handel. Ons het dit hierin te doen met ‘n ou en
beproefde belydenis van die Kerk, ‘n belydenis waarin ons in die geloof probeer
om rekenskap te gee van wat die Woord leer. Met ander woorde die Kerk
probeer om agterna te sê wat die Skrif aan ons voorhou en dit sonder enige
poging om die onbegryplike begryplik te maak.
Dit
is ook van belang om te onthou dat die Kerk hierdie leerstuk geformuleer het in
sy stryd om die handhawing van die Bybelse waarheid teenoor die dwaling in baie
vorme. En ook in die eeue wat gevolg het, is aan hierdie waarheid telkens
weer vasgehou om te voorkom dat dwaalleraars die grondwaarhede van die Skrif
vervals. Wil ‘n mens derhalwe die volle betekenis van die
drie-eenheidsleer, soos deur die Kerk bely, ten volle waardeer dan moet jy
eintlik van baie leerdwalinge deur die eeue heen kennis neem. So ‘n
poging kan
ons egter nie hier onder neem nie.
Die
Drie-eenheid – opklaringe oor die misterie
Op
nog een saak moet vooraf die aandag gevestig word: As die Kerk hier
spreek van een Wese en drie Persone en verder van onmededeelbare eienskappe,
waardeur die een Persoon van die Ander onderskeie is, dan was die Kerk daar
altyd helder van bewus dat hierdie woorde vol is van menslike tekortkominge en
nie instaat is om presies te sê wat die Kerk begerig is om te bely nie.
Aan die ander kant is die Kerk egter net so sterk deurdronge van die besef dat
niemand nog daarin geslaag het om die Godsopenbaring in hierdie verband beter
en meer duidelik tot uitdrukking te bring nie. Nog meer: Die
ervaring deur baie eeue van dogmavorming en ontwikkeling het bevestig dat oral
waar aan die aloue formule getorring is, die waarheid van die Skrif per slot
van rekening geweld aangedoen is. Ons herhaal derhalwe die ou beproefde
waarheid in die bekende woorde van die Nederlandse geloofsbelydenis (artikel
VIII): Volgens hierdie waarheid en die Woord van God, glo ons in ‘n enige
God, ‘n enige wese waarin drie persone is, inderdaad en werklik en van ewigheid
onderskeie volgens hulle onmededeelbare eienskappe: naamlik die Vader en
die Seun en die Heilige Gees.
Bostaande
verg eintlik ‘n nadere verduideliking van drie belydeniselemente, t.w. die
Wesenseenheid, die Persoonsonderskeiding en die onmededeelbare
eienskappe. Daarby gebruik ons met opset die woord “belydeniselemente” om
daarmee nog eens te kenne te gee dat ons nie wil verklaar en deurgrond nie,
maar slegs wil weet en ken uit die Skrifte.
Eers
handel ons slegs oor die wesenseenheid en ons volstaan met ‘n enkele
sitaat: “Duidelik blyk dit uit die feit, dat die Seun ook meermale Jehowa,
dit is, Here of “Hy is wat Hy is”, genoem word. Jesaja het die God van
die leërskare sien sit op ‘n troon (6:1). Dit was ongetwyfeld die Jehowa,
van wie Moses sê, dat Hy ‘n enige God is (Deut. 6:4). Johannes verklaar
egter, dat dit die Christus was (12:41). God roep deur die mond van
Jesaja: Ek leef. Voor My sal elke knie buig. (45:23)
Paulus pas egter hierdie gesegde op Christus toe (Rom. 14:11, Fil.
2:10). Verder beroep Calvyn hom op Jes. 8:14 in verband met Rom. 9:33 en
1 Petrus 2:7; op Ps. 68:19 in verband met Efes. 4:8; op Ps. 102:26 in verband
met Hebr. 1:10. Daaruit volg dat onder die naam van God die ganse
Goddelike Wese aangedui word, wat aan die Seun en aan die Gees met die Vader
gemeenskaplik is. Daarom kan ook van die Seun, op Homself en buite
betrekking tot die Vader gesien, en ten volle gesê word, omdat God se Wese
eenvoudig is, dat Hy God uit Homself is, maar met betrekking tot die Vader
gesien, geld die Vader as die oorsprong van die Seun. Die enige,
eenvoudige Wese van God sluit in dat alles wat die Vader as God is, ook van die
Seun en van die Heilige Gees op dieselfde wyse geld.” (A.D.R.
Polman: Onze Nederlandse Geloofsbelydenis, Deel I, p.295, vertaal.)
Laat
ons ten slotte nog eens bely: Wat hier in belydenistaal benader word, is
geopenbaarde misterieë. Omdat hulle geopenbaar is, is hulle
kenbaar. Maar omdat dit misterieë is, bly hulle onbegryplik, ja
aanbiddelik. Ons het gesien dat die kerklike belydenis leer dat daar in
God een Wese is onderskeie in drie Persone en wel volgens hulle onmededeelbare
eienskappe. Hierin het ons die suiwerste belydenis met betrekking tot
hierdie aanbiddelike misterie wat ooit in mensetaal geformuleer is. Aan
die einde van die bespreking behoort elkeen in die eerste instansie
getref word deur die feit dat ons dit hier nie met ‘n poging te doen het wat
wil deurgrond en verklaar nie. Van rasionele deursigtigheid kan hier uit die aard
van die saak geen sprake wees nie. Wat hier wel op die spel is. is ‘n
poging om te bely wat aan ons geopenbaar is. En hierdie naspreke van die
Heilige Skrif is noodwendig ‘n stamelende spreke. Die einde daarvan kan net een ding wees en
dit is aanbidding. Wie God nie so bely nie, vervaardig afgode. En
dit beteken dat die nederige, aanbiddende en suiwere belydenis van God as
drie-enig ons beste wapen is teen afgode en valse godsdiens.Wat die
geopenbaarde dinge van God betref, kan met reg gesê word: “Ons kan dit in
die geloof sien sonder om te oorsien of te deursien. Maar as
belydenisstuk mag dit nie in ‘n skolastieke trant met die hoogmoedige rede van
die mens ontleed word nie.” Ook hier is dit veral Calvyn en sy
geesverwante wat gedurig waarsku teen die oormoed en aanmatiging van diegene
wat meer wil weet as wat sterwelinge betaam. Vir elkeen wat egter bereid
is om te lees wat geskryf staan, sal dit egter duidelik wees dat daar maar een
enige waaragtige God is. Nou oor die drie Persone dus verder.
Hier volg die verduideliking van Calvyn: “Persoon noem ek ‘n
selfstandigheid in die Wese van God, wat in betrekking tot die ander, deur ‘n
onmededeelbare eienskap onderskei word. Deur die woord selfstandigheid
wil ons iets anders verstaan as die Wese. Want indien die Woord eenvoudig
God was en ondertussen niks eie het nie, dan sou Johannes verkeerd gesê het,
dat Hy altyd by God was. Maar omdat Hy by God nie kon wees sonder om in die
Vader te wees nie, ontstaan hier die selfstandigheid, wat, ofskoon dit deur ‘n
onafskeibare band met die Wese verbonde is en daarvan nie geskei kan word
nie, tog het elkeen ‘n spesiale eienskap, waardeur Hy van die ander onderskei
word. Nou sê ek, dat elkeen van hierdie selfstandighede met
betrekking tot die ander deur ‘n eienskap onderskei word. Die betrekking
word hier duidelik uitgedruk, want as daar onbepaald en sonder meer van God
melding gemaak word, behoort die naam nie minder aan die Seun en die Gees as
aan die Vader nie. Sodra tog die Vader met die Seun vergelyk word,
onderskei sy eienskap Hom van die ander. In die derde plek beweer ek, wat
aan niemand in die besonder eie is, nie onmededeelbaar is nie, omdat wat op die
Seun nie uitsluitlik kan pas en toegeken word
nie, kan ook
nie as ‘n teken van onderskeid aan die Vader toegeken word nie.”
Fig
1(a)
Prof
JA Heyns gebruik sirkels om die uiteensetting oor die Drieëenheid te
illustreer; skrywer gebruik driehoeke.
In fig
1 (a) stel die swart baan of lyn die Vader voor, liggrys die Seun en donkergrys
die Heilige Gee. ‘n Paar sake is hier van belang: verskillende lyne
is hier gebruik. Vader, Seun en Heilige Gee is verskillende Persone en
die drie is nie identies nie. Elk is ‘n selfstandigheid, maar elk het ‘n
spesiale eienskap waardeur Hy van die ander onderskei word. Ons noem dit
die onmededeelbare eienskappe. Die drie lyne bedek die volle
sirkel. Vader, Seun en Heilige Gees het al drie deel aan dieselfde
Goddelike Wese. Daar is ‘n verweefdheid van die lyne wat illustreer dat
hulle van mekaar onderskei is, maar hulle vorm steeds ‘n eenheid. Vader,
Seun en Heilige Gees is nie identies nie, en tog vorm hulle só ‘n eenheid dat,
as één van die Persone met sy spesifieke werk besig is, die ander twee nie
afwesig is nie.
Seun Heilige Gees
In
fig 1(b) stel elke hoek ‘n Persoon van die Drieëenheid voor. Elke een
onderskei Hom van die Ander deur sy onmededeelbare eienskappe. Daar is
geen grense ingetrek wat sê die godheid van elkeen is beperk nie. Dit
simboliseer i dat as een van die Persone met sy spesifieke werk besig is, die
ander twee nie afwesig is nie, en ii dat die drie Persone met mekaar verweefd
is, en iii dat aldrie deel het aan dieselfde Goddelike Wese.
Wanneer
ons so die gesonde leer kan
voorstel, is dit makliker om afwykings daarvan te illustreer. Baie
afwykings ontken die Drie-eenheid. Sabellius het ‘n merkwaardige beskouing oor
die Goddelike Drieëenheid ontwikkel wat selfs vandag nog nagevolg word.
Uitgaande van die eenheid van God, het Hy Hom agtervolgens in die loop van die
tyd as drie Persone geopenbaar. So ontplooi God Hom tot ‘n drieheid - Hy
is nie drie in Homself nie. Die drieheid is ‘n wisselende
uitdrukkingsvorm van die Goddelike natuur. Vir die lede van die drieheid
gebruik hy die begrip persoon. Die persoon van die Vader, Seun en Heilige
Gees dui dan aan dat elkeen slegs ‘n verskyningsvorm is van die één Goddelike
Wese, of dat elkeen slegs ‘n rol is wat die Godheid agtereenvolgens in die
geskiedenis speel. Die volgende diagram gee Sabellius se voorstelling die
beste weer:
Fig
2
Die
één ongedeelde, bo die tyd verhewe Godheid, openbaar Hom in die tyd histories
ná mekaar: eers in die persoon van die Vader, daarna trek Hy Hom terug en
openbaar Hom dan as Seun: trek Hom weer terug en openbaar Hom vervolgens
as Heilige Gees. Terwyl God dus die Vader is, is Hy nie die Seun of die
Heilige Gees nie; en terwyl Hy die Seun is, is Hy nie meer die Vader nie,
en nog nie die Heilige Gees nie, en as Hy die Gees is, is Hy nie meer die Vader
of die Sun nie. Tans leef ons dus in die bedeling van die Heilige
Gees. By Sabellius is God nie na sy wése drie persone nie, maar net in sy
openbáring. Hier het ons dus nie ‘n wesenseenheid nie, maar net ‘n
openbaringstriniteit. Dit word ook ‘n prosoponele triniteitsbeskouing
noem.
Die syfers
1, 2, en 3 stel die Vader, Seun en Heilige Gees voor. Volgens hierdie
voorstellings het elkeen van die drie Persone ‘n eie wese, maar vorm saam tog
‘n eenheid. Hier is die drie Persone so onafhanklik en letterlik so ver
van mekaar af, dat hulle elkeen ‘n eie god uitmaak. Dit is die dwaling
van die triteïsme of die driegodedom.
Die
syfers 1, 2 en 3 stel die Vader, Seun en Heilige Gees voor. Hiervolgens
deel al drie wel dieselfde wese, maar elkeen het nie deel aan die vólle wese
nie, dog slegs aan een-derde van die geheel. Ons kan die Drie-eenheid nie so voorstel
nie. Die Vader, Seun en Heilige Gees is nie elkeen slegs ‘n een-derde
deel van God nie. God kan
nie gedeel of verdeel word nie. Dit is ook ‘n dwaling wat onder die
driegodedom kan
tel.
Ons
wil maar hier volstaan met ‘n aanhaling uit die Nederlandse Geloofsbelydenis
(artikel VIII); Volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God, glo
ons in die enige God, ‘n enige wese waarin drie persone is, inderdaad en in
waarheid en van ewigheid onderskeie volgens hul onmededeelbare
eienskappe: naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Die
Vader is die oorsaak en die begin van alle dinge, sigbare sowel as
onsigbare; die Seun is die Woord, die Wysheid en die beeld van die
Vader; die Heilige Gees die ewige krag en mag, wat van die Vader en die
Seun uitgaan. So nogtans dat hierdie onderskeiding nie teweegbring dat
God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader
en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy selfstandigheid het wat onderskeie is
deur sy eienskappe; dog so dat hierdie drie Persone maar een enige God
is. So is dit dan duidelik dat die Vader nie die Seun is nie, en dat die
Seun nie die Vader is nie, en dat ook net so die Heilige Gees nie die Vader is
nie en ook nie die Seun nie. Nogtans is hierdie drie Persone so
onderskeie, nie gedeel nie en ook nie onderling gemeng nie. Want die
Vader het nie die vlees aangeneem nie, ook nie die Heilige Gees nie, maar die
Seun alleen. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sonder sy Heilige Gees
nie; want hulle is aldrie gelyklik en ewig in een en dieselfde
wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie; want hulle is aldrie
een in waarheid, in mag, in goedheid en barmhartigheid.
Ons
wil ten slotte nog eens herhaal: Om God te ken as die Drie-enige is iets
anders as om Hom te deurgrond, te verstaan of selfs uitputtend te
beskryf. Hy spreek oor Homself en al die wonders van Sy Raad en ons
spreek agterna, ook hierin as navolgers van God soos geliefde kinders.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking