Donderdag 24 Oktober 2019

DIE BOKS-BEDERFPAKKIE PROJEK



Ons wil graag ook ‘n bydrae maak om vreugde oor die Kerstyd aan boervroue in die droogte geteisterde gebiede te bring.
Daarom het die vrouekomitee van die kerk dit goed gedink om ook hierdie inisiatief aan die vroue van die gemeente oor te dra as daar iemand is wat daarby betrokke wil raak.
Die inhoud van ‘n bederfpakkie vir ongeveer
R250 moet binne in ‘n skoenboks pas. Dit kan verskeie items insluit, waarvan die volgende goeie riglyne is:
  • Een of twee pare nuwe sokkies, lipstiffie, mascara, of ‘n mooi serpie
  • Hande/lyfroom, aanrol/deodorant
  • Haarsjampoo en opknapper, tissues, tandepasta, tandebordel, Vaseline
  • Body wash, koekie seep, waslappe, skeermessies
  • Tydskrifte, geestelike dagboek, penne, potlode
  • Pleisters, Panado’s, Watte, Bruistablette, Vitamiene
  • Jellie- of suiglekkers, suiker, tee en koffie (cappuchino sakkies), koekies (moet dit net afsonderlike toedraai om nie met seep in aanraking te kom nie)
  • Pasta, blikkies kos, kondensmelk
  • Kombuisvadoek / afdroogdoek
  • Vuurhoutjies
  • Sit ook gerus ‘n bemoedigende briefie daarby, met jou naam en tel nommer (as jy wil) en draai dit mooi toe. Jy kan dit ook in koerantpapier of bruinpapier toedraai met ‘n mooi strik om.

Die bederfbokse kan na die kerk gebring word tot en met Sondag 10 November.
Ons sal dan sorg dat hierdie pakkies by die regte plek uitkom vir verspreiding na die mense aan wie dit gerig is.
Baie dankie by voorbaat vir jou bydrae om iemand se lewe in hierdie Kerstyd op te vrolik te midde van die omstandighede waarin hulle hulle bevind.

Saterdag 05 Oktober 2019


Die gemeente verwelkom Ds Johan Labuschagne, sy vrou  Anne  en klein NJ  in die NGK gemeente, Universitasrif.

Hy is op 6 Oktober 2019 om 09:00  as nuwe leraar in die gemeente bevestig en lewer ook tydens die geleentheid sy intree preek.

Ons het met n tikkie hartseer
van Ds Willie Badenhorst afskeid geneem
 met sy uittrede as leraar van  die 
NGK Universitasrif gemeente 
 op 31 Julie 2019.
Om na die afskeidspreek
wat hy op Sondag 28 Julie 2019 gelewer
 te luister en na die huldeblyk aan hom te kyk
kliek hier. 

Donderdag 18 April 2019

Wat beteken Jesus se Kruis vir ons...

DIE KRUIS TEEN DIE MUUR...

'n Swem instrukteur van 'n Amerikaanse Universiteit kon een nag nie slaap nie. Hy besluit hy gaan swem. Om nie aandag te trek nie, skakel hy nie die ligte aan nie. Hy het die omgewing van die swembad soos sy palm van sy hand geken. Hy klim op die duikplank, strek sy arms na weerskante uit en maak gereed om te duik.

Op daardie oomblik kom die maan agter 'n wolk uit en gooi sy liggaam se skaduwee teen die oorkantste muur. Die skaduwee lyk soos 'n kruis. Diep getref bly hy net so staan. Hy was nie 'n belydende Christen nie, maar daar op die duiktoring in die maanlig, in die stilte van die nag, dink hy aan Christus se kruis.

Woorde van 'n liedjie wat hy in die Sondagskool geleer het, kom in sy gedagte op: "Hy het gesterf, dat ek kon leef ..." Vreemd aangedaan, prewel hy die woorde. Hy besluit om af te klim en langs die swembad te gaan sit en die nuwe gedagtes wat so vreemd, skielik by hom opkom te gaan oordink.
Hy swaai sy bene oor die kant van die swembad om sy voete in die koel water te laat hang. Sy voete raak nie water nie. Dit is te donker om in die swembad te sien en hy klim stadig met die trappies af, een na die ander, tot op die bodem van die swembad.

Hy het nie geweet die swembad opsigter het die water uitgepomp om die volgende dag skoon water te laat inloop nie. Wat sou gebeur het as hy geduik het? Watter onuitspreeklike ingryping van genade wat hom weerhou het om te duik!

Diep aangedaan, kniel hy op die koue vloer van die swembad en dank God vir Sy groot en onverdiende ontferming. In sy hart wel 'n verlange op om nader aan hierdie God te kom. Sy geloof neem 'n verdere stap. Die skaduwee van die kruis het hom van 'n gewisse dood gered, so red Christus se kruisdood hom van die ewige dood. Alleen, knielende in die donker op die swembad se vloer, maak hy sy hart oop en neem Christus Jesus aan as sy Saligmaker !

Amen.
(Outeur onbekend)

  2024 Dis alweer die begin van n nuwe jaar al voel dit of 2023 net 6 maande lank was. Die skole het begin en ons gemeente aktiwiteite het...