Skepping van
die engele (NGB art 12 (b))
N.a.v. Feenstra: Ons moet van die
nie-liggaamlike skepping leer. Dit is vir ons ʼn skoon boek waarin alle skepsels
soos letters is wat ons die onsienlike dinge van God gee om te aanskou. God gee
aan die nie-liggaamlike skepping ʼn roeping om ons te onderwys. So het ons ʼn
taak om die engele te onderwys. Hulle is begerig om in die dinge in te kyk (1
Pet. 1:12). Dan sien die engele in die Kerk die wondervolle weë van die Here:
hoe God sy volk lei; hoe Hy die sondaars trek; hoe Hy deur sy Woord en Gees die
geloof versterk. Wanneer die engele uitgestuur word om te help, sien die engele
gelowiges op hulle knieë en die gebedsverhoringe van die kinders van God. Hulle
leer al meer die veerkleurige wysheid van God.
Soberheid
nodig
Calvyn beveel ook die reël van soberheid
en matigheid aan, sodat ons aangaande die duistere onderwerpe nie anders
spreek, gevoel of selfs verlang om te weet as wat deur die Woord van God gebied
word en dit leer die ware, sekere en nuttige kennis om die gewetens te
versterk.
Skepping van
die engele
Gén. 1 vertel niks oor die skepping van
engele nie. Tog het die Skepper dit goed gevind om nie net stof, plant, dier en
mens te skep nie, maar ook geestelike, nie-liggaamlike wesens. Hulle is nie as
beeld van God geskep nie – dit geld alleen die mens – maar wel met kennis en
verantwoordelikheid. Hulle word engele
genoem. Uit Gén. 2:1-3 en Job 38:7 kan ons aflei dat die engele bes moontlik
saam met die hemel (Gén. 1:1) geskep is, maar in elk geval voor die voltooiing
van die skepping. Kol. 1:16 sê dat Christus by dié skepping teenwoordig was en
dat “wat nie gesien kan
word” of “onsigbare dinge” ingesluit word, nl. trone, heerskappye, owerhede en
magte (AB 1953) of konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders (AB 1983), vgl.
Joh. 1:1. Hierdie geskape engele is geestelike wesens met eie denke en wil.
Hulle weet baie, maar nie alles nie. Wanneer die Heiland oor die dag en uur van
die wederkoms spreek, verklaar Hy dat geen mens dit weet nie, ook nie die engele
in die hemel nie (Mk. 13:32). Hulle kennis word blykbaar hoog aangeslaan,
anders sou dit geen sin maak om te sê dat ook die engele in die hemel dit nie
weet nie. Hulle het groot mag, maar hulle bly skepsels wat met groot ontsag
voor God vervul is, gedienstige geeste wat bereid is tot sy diens.
Vergelyking
van die engele met mense
Engele plant nie voort nie; mense wel.
Albei goed geskep, maar hulle kan wel val.
Ps. 8 leer dat ʼn mens weinig minder as
die engele gemaak is; maar deur die verlossingswerk van Christus word die mens
in Christus hoër as die engele (vgl. 1 Kor. 6:3; Heb. 1:5-13).
Die val van
sommige engele
As God die wêreld goed geskep het, is
die groot vraag waarvandaan kom die kwade in die skepping? Die antwoord lê in
die leer oor die engele. Die oorsprong van die Duiwel en sy trawante is nie tot
die skeppende dade van God te herlei nie. Hulle is geskep as engele – goeie
engele wat nie aan hulle oorsprong getrou gebly het nie, maar gesondig het en
vir die ewige verderf bestem geraak het (2 Pet. 2:4; Jud. 6). Hulle bly
geestlike wesens, met ʼn skeefgetrekte sedelikheid en verantwoordelikheid. Wat
die rede of aanleidende motivering vir hierdie opstand en verset teen God was,
weet ons nie presies nie, maar dit lyk of dit ʼn poging was om God na die kroon
te steek, om soos God te wil wees. In die hemel begin dus die sonde wat later
ook deur die Duiwel se aanhitsing tot die mens op aarde sou deurdring.
Na alle waarskynlikheid was dit ʼn
aansienlike getal engele wat geval het en wat onder leiding staan van ʼn listige
hoof, Satan. Kyk na sy optrede: hy weet (Paradys), in die versoeking in die
woestyn toon hy homself ʼn geniale veldheer. Hy probeer mense verblind vir die
boodskap van die evangelie (2 Kor. 4:4); in die saailand van die wêreld saai hy
die onkruid (Mt. 13:38) en neem die goeie saad weg wat in die hart van die mens
gesaai is (Mt; 13:19); hy versprei afvallige leerstellings (1 Tim. 4:2) en val
gelowiges met listige aanslae aan (Efés. 6:11).
Satan beteken letterlik “teenstander”. Diabolos
(Grieks) word weergegee met Duiwel en beteken “lasteraar, een wat alles
deurmekaar krap; aanhitser, aanklaer”. Ander name vir hom is die bose, Belial,
vors van bose magte, slang (van ouds), owerste of god van hierdie eeu of
wêreld, vader van die leuen en mensemoordenaar (2 Kor. 6:15; Openb. 12:10; Joh.
8:46; 12:31; 2 Kor. 4:4; Efés. 2:2).
Die eerste sonde vind plaas in die
engelewêreld (Joh. 8:44). ʼn Groot groep engele het saam met die Duiwel
ongehoorsaam geword (2 Petr. 2:4; 1 Tim. 5:21; Jud. 6). Hierdie sondeval was
eenmalig en finaal; ná hierdie val was daar nie nog ander engele wat geval het
nie; en die wat geval het, kan
hulle nie van hulle sonde bekeer nie. Die gevalle engele is uit die hemel
gedryf. Hulle voer ʼn stryd teen Christus en sy Kerk. Tog gaan leuen en dood
saam met die ewige verdoemenis vir die Duiwel en die syne. Hulle kennis blyk
ook daarin dat die demone in die besetene weet wie Christus is en wat Hy kom
doen.
Die artikel van die NGB is hier
breedvoeriger oor die Duiwel en sy trawante as oor die goeie engele. Dit
weerspieël die stryd van Guido de Brès te midde van inkwisisies, brandstapels,
bloedige vervolginge en verdrukkinge, wat hy en sy manne daagliks belewe het.
Hierdie sombere klanke oor die mag van Satan weerklink in hulle harte. Dit
vergelyk met die hewigheid van die aanslae op die gelowiges telkemale wanneer
die feit van Christus se finale oorwinning oor Satan akuut belewe word en sal
ook eenmaal weer hewiger word en die worsteling al moeiliker namate die koms
van Jesus Christus al nader kom en die tyd vir die optrede van Satan gevolglik
al korter word.
Die trou van
die uitverkore engele (1 Tim. 5:21)
Die wonderlike van die genade is dat
daardeur ʼn groot groep engele staande gebly het in die posisie waarin God hulle
geplaas het en getrou voortgearbei het aan die taak wat God hulle opgedra het.
Anders as wat die geval is met mense, is daar by die engele – wat gehoorsaam
gebly en met die goeie volhard het – nie sprake van sonde nie. Hulle bly soos
God hulle eenmaal geskep het, naamlik goeie betroubare boodskappers.
Die
groepname van engel of klasse, verskillende range
Onder die engele is daar ʼn groot
verskeidenheid in rang en stand, in waardigheid en diens (Efés. 1:21):
Gerubs, ((Gén. 3:24, op afbeeldinge in die tabernakel en
tempel,Eségiël, Openbaring (bewakers)).
Serafs, Jes. 6 (wakers oor die
heiligheid van God).
Trone, magte, owerhede,herskappye,
kragte, Kol. 1:16 AB 1953. Geen inligting hieroor nie, AB 1983 konings,
heersers, maghebbers, gesagvoerders.
Engele by name genoem
Gabriel: Dan. 8:16, by Sagaria in
die tempel en by Maria, Lk. 1
Migael: Dan. 16:13, 21; 12:1; Jud.
9; Openb. 12:7.
Getalle van engele
Jesus sê hy kan
bid om twaalf legioene van engele wat die Vader kan stuur (Mt. 26:53).
Nota: Die naam Engel van die Here in
die Ou Testament is baie keer ʼn manifestasie van die Seun en behoort onderskei
te word van ʼn engel van die Here.
Verhouding van die Seun tot die engele
A. Engele is deur die Seun geskep, Kol. 1:16.
Hulle is onder Hom, bestaan deur Hom en Hy is die Hoof van die engele soos Hy
die Hoof is van die hele skepping. Dit geld nie meer die engele wat onder ʼn
aartsengel afvallig geword het nie (al is hulle tog ook deur Hom medegeskep).
B. Engele dien die Seun
Gabriël kondig sy koms aan (Lk. 1).
Hemelse leërskare in die
Bethlehemsvelde (Lk. 2).
Die engele dien Hom na die
versoeking van Mt. 4:1-11; Lk. 4:1-11.
In Getsemane word Christus deur ʼn
engel versterk.
By die opstanding en hemelvaart is daar engele
wat ʼn troosboodskap aan die dissipels bring.
Die engele dien Hom as Hoof.
C. Engele sal in die oorwinning van die Seun
deel; asook in die stryd wat teen die afvallige engele gevoer word.
Die diens van die engele
A. Buitengewone diens
(a) O.T. Die
engel van die Here met twee engele op besoek by Abraham oor Sodom en Gomorra.
Jakob sien by Betel die engele op
en af gaan.
Engele by die wetgewing op Sinai (Hand.
7:53 en Gal. 3:19).
Migael stry om die “vors”
(afvallige engel) van die hof
van Persië te beïnvloed.
(b) N.T.
Reeds gemeld in B hierbo. Hulle begelei alle hoogtepunte in die lewe van
Christus.
(c) By die
wederkoms van Christus (Mt. 16:27; Thes. 1:17; Mt. 13:41, 49; 24:34) en die
engele werp die goddeloses in die vuuroond.
B. Gewone
diens
(a) Hulle
loof en prys God as hulle diens in die hemel (Jes. 6:1 en die Ons Vader gebed).
Hulle is God se bodes en gesante.
(b) Hulle
help die gelowiges. Hulle is dienende geeste terwille van die gelowiges (Hebr.
1:14); hulle beleef vreugde by die bekering van sondaars; hulle waak oor die
gelowiges. Let Wel: die r.k. teorie dat elke mens ʼn beskermengel het, is
nie Bybels ondersteun nie, vgl. Mt. 18:10.
(c) Hulle
stel belang in die verlossingswerk (1 Petr. 1:12; Efés. 3:9-10). Hulle stry met
Christus mee vir sy Kerk teen Satan (vgl. 2 Kon. 6:16-20). Hulle dra die
gelowiges by hulle dood na die skoot van Abraham.
Nota: 1 Veral Daniël 10 en Openbaring
12 gee twee skrefies waar die sluier ʼn bietjie gelig is oor die hemelse
gebeure.
2 Die r.k. teologie skep 3
hiërargieë van 3 groepe van engele en verbreek die soberheid van die Skrif oor
die engele.
3 Die
r.k. aanbidding van engele het geen steun in die Skrif nie.
4 Kom
ons waak daarteen dat ons die bestaan van engele prakties loën dat ons nooit
aan die diens en stryd van God se engele dink nie. Laat ons die stryd van
geloof volhou in die dankbare besef dat God se diendende geeste medewerkers is
aan ons uiteindelike heil (verwysing weer na die Ons Vader gebed).
Dwaalrigtings
1. Sadduseërs: Loën bestaan van engele (geeste)
en duiwels vanuit hulle praktiese materialisme, al beweer hulle daarvan staan
niks in die Wet van Moses (Gén. tot Deut.).
2. Manigeërs (Mani 215/6-276/7): Leer ʼn ewige
dualisme van ʼn goeie God met goeie engele wat staan teenoor ʼn bose god met bose
engele (wat die boosheid in hulself het) en dan glo hulle in die ryk van lig
wat staan teenoor die ryk van die duisternis. Satan is dus ʼn god, wel ʼn
anti-god.
3. Na De Brès is daar mense wat geleer het –
(a) dat
die engelegeloof ʼn surrogaat is vir ʼn verlore politeïsme;
(b) dat die engelegeloof eintlik “nonsens” is en
in ʼn kinderkamer uitgeban moet word;
(c) dat die engelegeloof ʼn primitiewe volksgeloof is; en
(d) Karel Barth leer dat die engele nie kon
sondig en val nie. Die Duiwel en sy magte is dus chaosmagte wat ʼn inbreek maak
op die skepping – ʼn moderne dualisme.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking