LIEF EN LEED:
NGKERK UNIVERSITASRIF – geskryf deur Herbie
Marais
Eintlik is dit ‘n
kontras, maar dis deel van elke gemeente se Afkondigings. Dit het dan twee
soorte gebede tot gevolg, naamlik: dank- en smeekgebede. Die “lief” is die
aangename deel, teenoor die “leed”, wat meestal onverstaanbaar is, maar dit
spreek, tydeloos, tot elke hoorder of leser daarvan.
Ek het nog altyd
gewonder watter gedagte dit by elke hoorder aktiveer as die leraar dit aan die
kerkgangers voorlees? ‘n Geldige raaiskoot sal wees dat ‘n antwoord hierop sal
verieer tussen: betrokkenheid (warmte) versus afsydigheid (koudheid).
Hierteenoor is die betrokke gesin en vriende altyd emosioneel verbind tot
deernis en meelewing.
Ja, ‘n lydende
mag wonder en sonderlinge vrae stel: dit hou nie verband met abnormaliteit en
het geen psigopatologiese betekenis. By wyse van ‘n metafoor: van die
legkaartstukkies gaan ontbreek, sodat die betrokke patroon onvolwaardig sal
wees. Dis die onverstaanbare, maar is gewis deel van menslike bestaan. Paulus
vermaan ons as hy verduidelik dat ons nou nog in ‘n dowwe spiel kyk en ‘n
raaiselagtige beeld sien (1 Kor. 13: 12). Geen persoon is daarop geregtig om
altyd antwoorde op al sy/haar vrae te kry nie. (dis die legkaartstukkies wat
ontbreek). Bepeinsing, oor betekenis, is ‘n soektog…dikwels weet ons nie waarna
ons alles moet soek nie. Die boek Prediker soek ook na antwoorde op die diepste
lewensvrae, ook op dié waarop die menslike wysheid nie ‘n antwoord het nie.
Hartseer en lyding (hoe sinloos dit mag klink) is deel van ons lewe: soos geboortes
en sterftes. Hierteenoor is daar ‘n “ewige waarheid”, naamlik: God is
Alomteenwoordig.
Party lydendes
ervaar hierdie realiteit as ‘n anomalie en kom in opstand en dit ontketen
frustrasie en verset. Dis ‘n gemoedstryd wat varieer tussen woede en skuldgevoelens.
Aanvaarding, van ‘n trauma, is nie vir elkeen ‘n ewe aanvaarbare belewing nie.
Dis dan ook nie ongehoord / vreemd as krasse stellings en misnoeë tydens dié
tyd (van rou emosies) uitgespreek word nie. (Dit word egter betwyfel of enige
vermaning, in hierdie gemoedstoestand ‘n positiewe effek sal hê?) Of sulke
weerbarstige gedrag sonde is, weet ek nie? Wat ek wil weet: weerstand ontlaai
mettertyd. God is nogtans getrou om ons te vergeef as ons berou toon…en
“teruggaan” om nie weer te sondig nie) Joh. 8: 11) (Dis ’n uitstaande verhaal
van: vergifnis) Elke lydende bepaal self waarde in geloofsgroei. In enige
pynlike ervaring moet verbande gelê word met ons begrip van God, want die sin
van lyding kan slegs deur geloofsgroei bepaal word. In Paulus se brief aan die
Fillipense sê hy dat God aan ons gedagtes die regte insig sal gee (Fil. 3: 15)
Elke lydende het
’n keuse. Die selfversekerde “ek” of die hulpsoekende. Nie twee mense sal
dieselfde op hartseer en lyding reageer nie. Niemand word ook vooraf opgelei
hoé om dit te hanteer nie. Daar sal ook nooit standaard riglyne of
kits-oplossings beskikbaar wees nie, as gevolg van die uniekheid van elke mens.
Hierteenoor is alle mense voor God: gelykwaardig, gelykbetekenend en
gelykgeregtig. Dis ’n groot troos: wat eintlik beteken dat God van al ons
omstandighede kennis dra: afgesien van posisie, status of belangrikheid. Hoe Hy
op ons vrae, versoeke en versugtinge antwoord, is eintlik ’n misterie. Dalk lig
Paulus die sluier hieroor op, as jy ons wil leer dat ons eendag alles sal sien
soos dit werklik is, omdat ons nou net gedeeltelik ken. Hiervolgends is dit
onbillik om te verwag dat God op almal ons hoekom-vrae oplossings moet gee.
Elkeen ken die
“adres” van die beste toevlugsoord: dis die Krag en Trou van God. Daarom mag
elkeen, wat gebroke is, na God gaan om te sê presies hoe hy/sy voel. Daar is
sin in lyding as ons swaarkry (worsteling) ons vaster laat groei aan die trou
van God. ’n Troos vir elke lydende is dat ons ons omstandighede alles by God
mag uitpak (met Hom in gebed mag bespreek), want niks daarvan sal Hy nie kan
hanteer of oplos nie; al moet ons dalk wag tot....”eendag” (1 Kor. 13: 12).
In retrospektief,
op onaangename ervaringe in ons lewensloop, moet ons erken dat God ons nooit
tot breekpunt beproef het nie, maar wel tot groeipunt. Dis ’n totaal
andersoortige groeiproses, wat individueel sal verskil. Dit kan met baie soorte
emosies gepaardgaan, wat ons kan ontwrig en selfs psigies siek kan maak.
In sulke tye is
daar net EEN anker, wat as waarborg kan dien, vir ons geloof en herstel, en dit
is die “NOGTANS-versekering”. Met ander woorde: al is ons omstandighede hoe
donker...NOGTANS bly God dieselfde. (Die “NOGTANS-versekering” is ’n betroubare
toets vir ons geloof). Dit word in Habakuk se gebed weerspieël waarin hy onder
andere bely dat hy: NOGTANS in die Here sal jubel en juig: afgesien van die
donker prentjie waarna hy verwys (Hab. 3:18). Dis dan ook my beskeie gebed, dat
elkeen wat direk of indirek geraak word, vir wie weekliks voorbidding gevra word,
deur ons Vader gelei sal word om met “NOGTANS-krukke” toegerus te word.
Dikwels is ’n
trauma ’n eindpunt, maar amper teenstrydig hiermee ook ’n beginpunt: ’n nuwe
fase. Hierdie besef ontsluit Goddelike krag, wat aan ons heelbaarheid weer vorm
en rigting gee. Dit belig ’n nuwe begin en nuwe pad waarop ons die versekering
het dat God ons Herder is (Ps. 23). Met ander woorde, God se liefde en genade
leef voort, want Hy gee die Ewige lewe in Jesus Christus ons Here.
Wat was my
inspirasie om hieroor te skryf? Die weeklikse Afkondigings en ds Willie
Badenhorst se boodskap op 24 September 2017. “ DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS WORD
SIGBAAR TEENOOR GOD EN MEDEGELOWIGES” uit Ef. 4: 32 en Kol. 3: 1-21. Die inhoud
was aangrypend en veelseggend en eintlik ’n indirekte “opdrag” aan elkeen van
ons. Reëel verwag God van ons om op genade (aan ons bewys) doelgerig teenoor
medemense te handel. God se evangelie, van genade, moet in ons emosies en lewe
wortelskiet, groei en veelvuldig vrugte dra. Dis ’n opdrag.
Ds Willie het ook
na die omgeegroepe se funksie verwys, ten opsigte van omgee en betrokkenheid.
’n Resente praktiese voorbeeld hiervan is toe Bennie, wat langs my gesit het,
in ‘n “tipe koma” was. Die volgende oomblik was daar twee dames by my (ek het
langs die paadjie gesit). Hulle erns, warmte, opregtheid en vrywillige
dienslewering, op hulle knieë, in hulle kerkdrag, om Bennie by te bring...het
’n uitsonderlike filantropiese indruk op my gemaak. Later het ’n derde een
bygekom. Spesiale dokters: gemeet aan die toename van egosentrisme en
gierigheid. So ’n gebaar is PRAGTIG en maak my bewoë, maar ook so DANKBAAR, en
trots op die drie geneeshere, wat aan my geheel onbekend is. (Ds Willie, u is
geseënd met genoeg voorbeeldige lidmate in die Rif).
Die laaste deel van ds Willie se preek, het my laat nadink oor my eie
grafiese voorstelling van Genade: as ’n onderstebo hoofletter T. Die vertikale
lyn verteenwoordig God se genade wat ons (onverdiend en onbeperk) ontvang (Joh.
1: 16). Die horisontale streep verteenwoordig God se opdrag dat ons Sy genade,
teenoor mekaar (links en regs) moet uitleef. Voorbeelde hiervoor kom talryk in
die Bybel voor, vergelyk ook ds Willie se verwysings: Kol. 3: 18-24. (My
gebrekkige poging, om Genade te probeer beskryf (my eindproduk) is op aanvraag beskikbaar).
Van bogenoemde sinne is woordeliks geneem uit my (anonieme) geskrif: MY
OPREGTE MEEGEVOEL MET ELKEEN WAT TREUR. Dit het ek geskryf na die tragedie in
die parkie. Ek het dit geraam en daar gaan plaas. (Ingeval iemand dit dalk daar
gelees het).
Beknopte agtergrond hiervoor: Ek is deur Gerhard, eerste, genader vir
uitkenning (net na die treurspel) omdat hy daarvan bewus was dat dame-studente
by my woon. Uiteraard was dit vir my ‘n baie hartseer ervaring, gevolglik het
ek daarvoor troos gesoek. Gevolglik het ek (soos al in my verlede) geskryf,
omdat dit vir my terapeuties is. (Dit bring vir my ’n gewyde berusting en
veranker my met die Drie-eenheid).
Mag elkeen hierdie “gedagtepraat” gebruik om sy/haar visie te verbreed, om
die onsienlike te probeer begryp, tot meelewing, en nie ophou om vrugte te dra
nie (Jer. 17: 7, 8) en te doen wat daar te doen is, as ’n gawe van God.
Belangrik: Hierdie is geen kritiek of verbetering op ds Willie se preek
nie; dit was uitstekend. Dit dien net as bewys dat die inhoud van die boodskap
so bindend was dat dit nie vir my by ds Willie se: “mag dit so wees” (Amen)
opgehou het nie. Ek kon die volgende dag nog daaroor peins, met hierdie
pennevrug.
Naskrif: Ons hier in die Rif gemeente is geseënd met ’n prediker wat nou al
amper vir drie dekades (DV Augustus 2018) onafgebroke met ’n standaard van
uitsonderlikheid, ons harte (of dan myne) aanraak.
Baie dankie ds Willie vir u mooi voorbeeld en professionele optrede.
Herbie Marais