Donderdag 06 September 2018

DIE DRIE-EENHEID - saamgestel en geskryf deur Prof Fanie Riekert


Die Kennis van God as die Drieënige – opklaring oor die kennis

God is die onbegryplike.  As dit nie so was nie, sou Hy nie God of die Aanbiddelike kon wees nie.  Immers, die eindige kan die Oneindige nie omvat nie.  Hieruit het baie die oorhaastige gevolgtrekking gemaak dat God om die rede ook onkenbaar is.  Maar as God geheel en al onkenbaar was, sou ons ook geen reg gehad het om te beweer dat Hy onbegryplik is nie.  Wie enigiets oor God wil bely, moet Hom ken.  So nie is die inhoud van die belydenis uit die lug gegryp.

Ons ken God, soos ons nou weet, uit die feit dat dit Hom behaag het om Homself aan ons te openbaar en van hierdie selfopenbaring van  God is die Heilige Skrif die enigste en volstrek betroubare oorkonde.  Dit beteken dat ons God ook net kan ken vir sover as wat die Openbaring strek en enkel uit die Heilige Skrif.  Wie meer wil weet, is dwaas en goddeloos.

Uit die voorgaande kan ons aflei dat daar twee eienskappe is wat aan alle waaragtige Godskennis toekom.  Die eerste word gewoonlik uitgedruk met die enigsins vreemde term:  Inadekwaat.  Daarmee wil ons te kenne gee dat ons God nooit ten volle kan ken nie.  Soos wat God Homself ken, kan geen sterweling op hierdie aarde Hom ken nie.  Maar ‘n ander ewe fundamentele eienskap van die Godskennis waaraan ons moet vashou is die waarheid en die betroubaarheid daarvan.  Dit is inderdaad so dat ons van die grote God maar heel weinig weet, ja dat Hy ons begrip, ons taal, selfs ons aanbidding oneindig ver te bowe en te buite gaan.  Van beide Gods Openbaring in die natuur en die Skriftuur geld die treffende woorde van Job aan die einde van hoofstuk 26:  Kyk, dit is maar uitlopers van sy weë, en wat ‘n fluisterwoord hoor ons maar van Hom!  Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?

Aan die ander kant – en dit is van net soveel betekenis – is hierdie kennis suiwer.  Dit wil sê, sover as wat dit strek, kan ons op hierdie kennis bou.  God self en die waarheid en betroubaarheid van Sy Woord is hiervoor die waarborg.  Ons kan derhalwe met vrymoedigheid beweer dat hierdie onvoldoende Godskennis die mees betroubare kennis is waaroor die mens op aarde kan beskik.  Dit kan groei en eenmaal oorgaan in aanskouing maar verander kan dit nooit.  Wat ten dele is, kan en sal volkome wees, maar ons Godskennis sal nooit die diepte van God kan peil of omvat nie.

Dit is verder van groot belang om te onthou dat ons tans in die bedeling van die sonde leef.  Om die rede is die ware kennis van God geen algemeen menslike verskynsel nie.  Maar daar is nog twee eienskappe van die ware kennis van God waarop ons baie sterk die aandag moet vestig.  Die eerste is dat ons hierdie kennis deur die geloof deelagtig word en ook uitsluitlik deur die geloof.  Dit is altyd ‘n kennis in die aangesig van Christus Jesus, onse Here.  Sy woorde is en bly waar:  Niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie.  En verder:  Wie my gesien het, het die Vader gesien.  God is geopenbaar in die vlees en slegs diegene wat Hom in Christus Jesus as God en Vader leer ken, weet waarlik wie God is.  Nie uit die ervaring in die ruimste sin van hierdie woord nie, maar deur die gelowige aanvaarding van wat geskrywe staan, weet ons wie God is en ook dat Hy bestaan.  En hiermee hang onmiddellik saam ‘n ander spesifieke eienskap van ons kennis van die Here God.  Dit is naamlik lewend en persoonlik.  Dit raak die hart en so die hele mens.  Dit is onmoontlik om God te ken met ‘n koele, afgetrokke en onbewoë kennis.  Dit stel ons altyd in ‘n lewende persoonlike relasie.  Wie God ken, ken ook die vrese van die Here en hierdie vrese is ‘n diepe en heilige ontsag.

  Dit beteken dat ons God nie deur die geloof, as algemeen menslike vermoë leer ken nie, maar wel en uitsluitlik deur die saligmakende geloof, wat die skuldvergiffenis deur die soendood van die Heiland insluit.  En as ons hier spreek van insluit, dan bedoel ons dit in die sin dat ook dit nie abstrak en in die algemeen verstaan mag word nie.  Dit gaan oor my persoonlike versoening met God deur die kruis van Sy Seun.  So, en so alleen kan daar van ware Godskennis sprake wees.  Dit sal eerder beteken dat die woord vir die gelowige nie maar ‘n boek is vol van allerhande godsdienstige wetenswaardighede, waaronder ook inligting oor die Persoon, die Wese en die werke van God nie.  Dit is ‘n lewende boek, waarin die sprekende God ons self teëkom.  Dit is, soos wat iemand dit gestel het, die Boek van ontmoetinge.

Dit behoort tans vir ons duidelik te wees in watter sin daar vir die ware Christenmens sprake kan wees van die kennis van God.  En so sal ons ook verstaan dat die “god” van die filosowe vir ons ‘n afgod is, tensy dat ons wysbegeerte en wetenskap begin met die vrese van die Here, waarin die beginsel van die wysheid is.  Maar in so ‘n geval word daar ook nie oor God gefilosofeer nie.  Selfs die teologie moet hier uiters versigtig wees sodat die aanbiddende grondstemming nie verwaarloos word nie.  Ons het dit immers met die lewende God te doen.  En van Hom geld die woord uit Job:  Oor God is daar ontsagwekkende majesteit.

God is wel kenbaar vir die mens maar slegs uit Sy Selfopenbaring en deur die geloof.  Aan hierdie waarhede moet ons vashou as ons met vrug oor die Drie-eenheidsleer wil handel.  Ons het dit hierin te doen met ‘n ou en beproefde belydenis van die Kerk, ‘n belydenis waarin ons in die geloof probeer om rekenskap te gee van wat die Woord leer.  Met ander woorde die Kerk probeer om agterna te sê wat die Skrif aan ons voorhou en dit sonder enige poging om die onbegryplike begryplik te maak.

Dit is ook van belang om te onthou dat die Kerk hierdie leerstuk geformuleer het in sy stryd om die handhawing van die Bybelse waarheid teenoor die dwaling in baie vorme.  En ook in die eeue wat gevolg het, is aan hierdie waarheid telkens weer vasgehou om te voorkom dat dwaalleraars die grondwaarhede van die Skrif vervals.  Wil ‘n mens derhalwe die volle betekenis van die drie-eenheidsleer, soos deur die Kerk bely, ten volle waardeer dan moet jy eintlik van baie leerdwalinge deur die eeue heen kennis neem.  So ‘n poging kan ons egter nie hier onder neem nie.

Die Drie-eenheid – opklaringe oor die misterie

Op nog een saak moet vooraf die aandag gevestig word:  As die Kerk hier spreek van een Wese en drie Persone en verder van onmededeelbare eienskappe, waardeur die een Persoon van die Ander onderskeie is, dan was die Kerk daar altyd helder van bewus dat hierdie woorde vol is van menslike tekortkominge en nie instaat is om presies te sê wat die Kerk begerig is om te bely nie.  Aan die ander kant is die Kerk egter net so sterk deurdronge van die besef dat niemand nog daarin geslaag het om die Godsopenbaring in hierdie verband beter en meer duidelik tot uitdrukking te bring nie.  Nog meer:  Die ervaring deur baie eeue van dogmavorming en ontwikkeling het bevestig dat oral waar aan die aloue formule getorring is, die waarheid van die Skrif per slot van rekening geweld aangedoen is.  Ons herhaal derhalwe die ou beproefde waarheid in die bekende woorde van die Nederlandse geloofsbelydenis (artikel VIII):  Volgens hierdie waarheid en die Woord van God, glo ons in ‘n enige God, ‘n enige wese waarin drie persone is, inderdaad en werklik en van ewigheid onderskeie volgens hulle onmededeelbare eienskappe:  naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Bostaande verg eintlik ‘n nadere verduideliking van drie belydeniselemente, t.w. die Wesenseenheid, die Persoonsonderskeiding en die onmededeelbare eienskappe.  Daarby gebruik ons met opset die woord “belydeniselemente” om daarmee nog eens te kenne te gee dat ons nie wil verklaar en deurgrond nie, maar slegs wil weet en ken uit die Skrifte. 

Eers handel ons slegs oor die wesenseenheid en ons volstaan met ‘n enkele sitaat:  “Duidelik blyk dit uit die feit, dat die Seun ook meermale Jehowa, dit is, Here of “Hy is wat Hy is”, genoem word.  Jesaja het die God van die leërskare sien sit op ‘n troon (6:1).  Dit was ongetwyfeld die Jehowa, van wie Moses sê, dat Hy ‘n enige God is (Deut. 6:4).  Johannes verklaar egter, dat dit die Christus was (12:41).  God roep deur die mond van Jesaja:  Ek leef.  Voor My sal elke knie buig.  (45:23)  Paulus pas egter hierdie gesegde op Christus toe (Rom. 14:11,  Fil. 2:10).  Verder beroep Calvyn hom op Jes. 8:14 in verband met Rom. 9:33 en 1 Petrus 2:7; op Ps. 68:19 in verband met Efes. 4:8; op Ps. 102:26 in verband met Hebr. 1:10.  Daaruit volg dat onder die naam van God die ganse Goddelike Wese aangedui word, wat aan die Seun en aan die Gees met die Vader gemeenskaplik is.  Daarom kan ook van die Seun, op Homself en buite betrekking tot die Vader gesien, en ten volle gesê word, omdat God se Wese eenvoudig is, dat Hy God uit Homself is, maar met betrekking tot die Vader gesien, geld die Vader as die oorsprong van die Seun.  Die enige, eenvoudige Wese van God sluit in dat alles wat die Vader as God is, ook van die Seun en van die Heilige Gees op dieselfde wyse geld.”  (A.D.R. Polman:  Onze Nederlandse Geloofsbelydenis, Deel I, p.295, vertaal.)

Laat ons ten slotte nog eens bely:  Wat hier in belydenistaal benader word, is geopenbaarde misterieë.  Omdat hulle geopenbaar is, is hulle kenbaar.  Maar omdat dit misterieë is, bly hulle onbegryplik, ja aanbiddelik.  Ons het gesien dat die kerklike belydenis leer dat daar in God een Wese is onderskeie in drie Persone en wel volgens hulle onmededeelbare eienskappe.  Hierin het ons die suiwerste belydenis met betrekking tot hierdie aanbiddelike misterie wat ooit in mensetaal geformuleer is.  Aan die einde van die bespreking behoort elkeen  in die eerste instansie getref word deur die feit dat ons dit hier nie met ‘n poging te doen het wat wil deurgrond en verklaar nie.  Van rasionele deursigtigheid kan hier uit die aard van die saak geen sprake wees nie.  Wat hier wel op die spel is. is ‘n poging om te bely wat aan ons geopenbaar is.  En hierdie naspreke van die Heilige Skrif is noodwendig ‘n stamelende spreke.  Die einde daarvan kan net een ding wees en dit is aanbidding.  Wie God nie so bely nie, vervaardig afgode.  En dit beteken dat die nederige, aanbiddende en suiwere belydenis van God as drie-enig ons beste wapen is teen afgode en valse godsdiens.Wat die geopenbaarde dinge van God betref, kan met reg gesê word:  “Ons kan dit in die geloof sien sonder om te oorsien of te deursien.  Maar as belydenisstuk mag dit nie in ‘n skolastieke trant met die hoogmoedige rede van die mens ontleed word nie.”  Ook hier is dit veral Calvyn en sy geesverwante wat gedurig waarsku teen die oormoed en aanmatiging van diegene wat meer wil weet as wat sterwelinge betaam.  Vir elkeen wat egter bereid is om te lees wat geskryf staan, sal dit egter duidelik wees dat daar maar een enige waaragtige God is.  Nou  oor die drie Persone dus verder.  Hier volg die verduideliking van Calvyn:  “Persoon noem ek ‘n selfstandigheid in die Wese van God, wat in betrekking tot die ander, deur ‘n onmededeelbare eienskap onderskei word.  Deur die woord selfstandigheid wil ons iets anders verstaan as die Wese.  Want indien die Woord eenvoudig God was en ondertussen niks eie het nie, dan sou Johannes verkeerd gesê het, dat Hy altyd by God was. Maar omdat Hy by God nie kon wees sonder om in die Vader te wees nie, ontstaan hier die selfstandigheid, wat, ofskoon dit deur ‘n onafskeibare band met die Wese verbonde is en daarvan nie  geskei kan word nie, tog het elkeen ‘n spesiale eienskap, waardeur Hy van die ander  onderskei  word.  Nou sê ek, dat elkeen van hierdie selfstandighede met betrekking tot die ander deur ‘n eienskap onderskei word.  Die betrekking word hier duidelik uitgedruk, want as daar onbepaald en sonder meer van God melding gemaak word, behoort die naam nie minder aan die Seun en die Gees as aan die Vader nie.  Sodra tog die Vader met die Seun vergelyk word, onderskei sy eienskap Hom van die ander.  In die derde plek beweer ek, wat aan niemand in die besonder eie is, nie onmededeelbaar is nie, omdat wat op die Seun nie uitsluitlik kan pas en toegeken word nie, kan ook nie as ‘n teken van onderskeid aan die Vader  toegeken word nie.” 
Fig 1(a)
Prof JA Heyns gebruik sirkels om die uiteensetting oor die Drieëenheid te illustreer;  skrywer gebruik driehoeke.

In fig 1 (a) stel die swart baan of lyn die Vader voor, liggrys die Seun en donkergrys die Heilige Gee.  ‘n Paar sake is hier van belang:  verskillende lyne is hier gebruik.  Vader, Seun en Heilige Gee is verskillende Persone en die drie is nie identies nie.  Elk is ‘n selfstandigheid, maar elk het ‘n spesiale eienskap waardeur Hy van die ander onderskei word.  Ons noem dit die onmededeelbare eienskappe.  Die drie lyne bedek die volle sirkel.  Vader, Seun en Heilige Gees het al drie deel aan dieselfde Goddelike Wese.  Daar is ‘n verweefdheid van die lyne wat illustreer dat hulle van mekaar onderskei is, maar hulle vorm steeds ‘n eenheid.  Vader, Seun en Heilige Gees is nie identies nie, en tog vorm hulle só ‘n eenheid dat, as één van die Persone met sy spesifieke werk besig is, die ander twee nie afwesig is nie.
                                                               

                                                            
        Fig 1 (b)                                   Vader
                             
Seun                                                                Heilige Gees

In fig 1(b) stel elke hoek ‘n Persoon van die Drieëenheid voor.  Elke een onderskei Hom van die Ander deur sy onmededeelbare eienskappe.  Daar is geen grense ingetrek wat sê die godheid van elkeen is beperk nie.  Dit simboliseer i dat as een van die Persone met sy spesifieke werk besig is, die ander twee nie afwesig is nie, en ii dat die drie Persone met mekaar verweefd is, en iii dat aldrie deel het aan dieselfde Goddelike Wese.

Wanneer ons so die gesonde leer kan voorstel, is dit makliker om afwykings daarvan te illustreer.  Baie afwykings ontken die Drie-eenheid. Sabellius het ‘n merkwaardige beskouing oor die Goddelike Drieëenheid ontwikkel wat selfs vandag nog nagevolg word.  Uitgaande van die eenheid van God, het Hy Hom agtervolgens in die loop van die tyd as drie Persone geopenbaar.  So ontplooi God Hom tot ‘n drieheid - Hy is nie drie in Homself nie.  Die drieheid is ‘n wisselende uitdrukkingsvorm van die Goddelike natuur.  Vir die lede van die drieheid gebruik hy die begrip persoon.  Die persoon van die Vader, Seun en Heilige Gees dui dan aan dat elkeen slegs ‘n verskyningsvorm is van die één Goddelike Wese, of dat elkeen slegs ‘n rol is wat die Godheid agtereenvolgens in die geskiedenis speel.  Die volgende diagram gee Sabellius se voorstelling die beste weer:






Fig 2

Die één ongedeelde, bo die tyd verhewe Godheid, openbaar Hom in die tyd histories ná mekaar:  eers in die persoon van die Vader, daarna trek Hy Hom terug en openbaar Hom dan as Seun:  trek Hom weer terug en openbaar Hom vervolgens as Heilige Gees.  Terwyl God dus die Vader is, is Hy nie die Seun of die Heilige Gees nie;  en terwyl Hy die Seun is, is Hy nie meer die Vader nie, en nog nie die Heilige Gees nie, en as Hy die Gees is, is Hy nie meer die Vader of die Sun nie.  Tans leef ons dus in die bedeling van die Heilige Gees.  By Sabellius is God nie na sy wése drie persone nie, maar net in sy openbáring.  Hier het ons dus nie ‘n wesenseenheid nie, maar net ‘n openbaringstriniteit.  Dit word ook ‘n prosoponele triniteitsbeskouing noem.
Fig 3(a)


Fig 3( b)

Die syfers 1, 2, en 3 stel die Vader, Seun en Heilige Gees voor.  Volgens hierdie voorstellings het elkeen van die drie Persone ‘n eie wese, maar vorm saam tog ‘n eenheid.  Hier is die drie Persone so onafhanklik en letterlik so ver van mekaar af, dat hulle elkeen ‘n eie god uitmaak.  Dit is die dwaling van die triteïsme of die driegodedom.


 Fig 4(a)     
 Fig 4(b)

Die syfers 1, 2 en 3 stel die Vader, Seun en Heilige Gees voor.  Hiervolgens deel al drie wel dieselfde wese, maar elkeen het nie deel aan die vólle wese nie, dog slegs aan een-derde van die geheel.  Ons kan die Drie-eenheid nie so voorstel nie.  Die Vader, Seun en Heilige Gees is nie elkeen slegs ‘n een-derde deel van God nie.  God kan nie gedeel of verdeel word nie.  Dit is ook ‘n dwaling wat onder die driegodedom kan tel.

Ons wil maar hier volstaan met ‘n aanhaling uit die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel VIII);  Volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God, glo ons in die enige God, ‘n enige wese waarin drie persone is, inderdaad en in waarheid en van ewigheid onderskeie volgens hul onmededeelbare eienskappe:  naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees.  Die Vader is die oorsaak en die begin van alle dinge, sigbare sowel as onsigbare;  die Seun is die Woord, die Wysheid en die beeld van die Vader;  die Heilige Gees die ewige krag en mag, wat van die Vader en die Seun uitgaan.  So nogtans dat hierdie onderskeiding nie teweegbring dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy selfstandigheid het wat onderskeie is deur sy eienskappe;  dog so dat hierdie drie Persone maar een enige God is.  So is dit dan duidelik dat die Vader nie die Seun is nie, en dat die Seun nie die Vader is nie, en dat ook net so die Heilige Gees nie die Vader is nie en ook nie die Seun nie.  Nogtans is hierdie drie Persone so onderskeie, nie gedeel nie en ook nie onderling gemeng nie.  Want die Vader het nie die vlees aangeneem nie, ook nie die Heilige Gees nie, maar die Seun alleen.  Die Vader was nooit sonder sy Seun of sonder sy Heilige Gees nie;  want hulle is aldrie gelyklik en ewig in een en dieselfde wese.  Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie;  want hulle is aldrie een in waarheid, in mag, in goedheid en barmhartigheid.



Ons wil ten slotte nog eens herhaal:  Om God te ken as die Drie-enige is iets anders as om Hom te deurgrond, te verstaan of selfs uitputtend te beskryf.  Hy spreek oor Homself en al die wonders van Sy Raad en ons spreek agterna, ook hierin as navolgers van God soos geliefde kinders.

  2024 Dis alweer die begin van n nuwe jaar al voel dit of 2023 net 6 maande lank was. Die skole het begin en ons gemeente aktiwiteite het...