Woensdag 20 Junie 2018

Engele - saamgevat en geskryf deur Prof Fanie Riekert

Skepping van die engele (NGB art 12 (b))
N.a.v. Feenstra: Ons moet van die nie-liggaamlike skepping leer. Dit is vir ons ʼn skoon boek waarin alle skepsels soos letters is wat ons die onsienlike dinge van God gee om te aanskou. God gee aan die nie-liggaamlike skepping ʼn roeping om ons te onderwys. So het ons ʼn taak om die engele te onderwys. Hulle is begerig om in die dinge in te kyk (1 Pet. 1:12). Dan sien die engele in die Kerk die wondervolle weë van die Here: hoe God sy volk lei; hoe Hy die sondaars trek; hoe Hy deur sy Woord en Gees die geloof versterk. Wanneer die engele uitgestuur word om te help, sien die engele gelowiges op hulle knieë en die gebedsverhoringe van die kinders van God. Hulle leer al meer die veerkleurige wysheid van God.

Soberheid nodig
Calvyn beveel ook die reël van soberheid en matigheid aan, sodat ons aangaande die duistere onderwerpe nie anders spreek, gevoel of selfs verlang om te weet as wat deur die Woord van God gebied word en dit leer die ware, sekere en nuttige kennis om die gewetens te versterk.

Skepping van die engele
Gén. 1 vertel niks oor die skepping van engele nie. Tog het die Skepper dit goed gevind om nie net stof, plant, dier en mens te skep nie, maar ook geestelike, nie-liggaamlike wesens. Hulle is nie as beeld van God geskep nie – dit geld alleen die mens – maar wel met kennis en verantwoordelikheid. Hulle word engele  genoem. Uit Gén. 2:1-3 en Job 38:7 kan ons aflei dat die engele bes moontlik saam met die hemel (Gén. 1:1) geskep is, maar in elk geval voor die voltooiing van die skepping. Kol. 1:16 sê dat Christus by dié skepping teenwoordig was en dat “wat nie gesien kan word” of “onsigbare dinge” ingesluit word, nl. trone, heerskappye, owerhede en magte (AB 1953) of konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders (AB 1983), vgl. Joh. 1:1. Hierdie geskape engele is geestelike wesens met eie denke en wil. Hulle weet baie, maar nie alles nie. Wanneer die Heiland oor die dag en uur van die wederkoms spreek, verklaar Hy dat geen mens dit weet nie, ook nie die engele in die hemel nie (Mk. 13:32). Hulle kennis word blykbaar hoog aangeslaan, anders sou dit geen sin maak om te sê dat ook die engele in die hemel dit nie weet nie. Hulle het groot mag, maar hulle bly skepsels wat met groot ontsag voor God vervul is, gedienstige geeste wat bereid is tot sy diens.

Vergelyking van die engele met mense
Engele plant nie voort nie; mense wel.
Albei goed geskep, maar hulle kan wel val.
Ps. 8 leer dat ʼn mens weinig minder as die engele gemaak is; maar deur die verlossingswerk van Christus word die mens in Christus hoër as die engele (vgl. 1 Kor. 6:3; Heb. 1:5-13).

Die val van sommige engele
As God die wêreld goed geskep het, is die groot vraag waarvandaan kom die kwade in die skepping? Die antwoord lê in die leer oor die engele. Die oorsprong van die Duiwel en sy trawante is nie tot die skeppende dade van God te herlei nie. Hulle is geskep as engele – goeie engele wat nie aan hulle oorsprong getrou gebly het nie, maar gesondig het en vir die ewige verderf bestem geraak het (2 Pet. 2:4; Jud. 6). Hulle bly geestlike wesens, met ʼn skeefgetrekte sedelikheid en verantwoordelikheid. Wat die rede of aanleidende motivering vir hierdie opstand en verset teen God was, weet ons nie presies nie, maar dit lyk of dit ʼn poging was om God na die kroon te steek, om soos God te wil wees. In die hemel begin dus die sonde wat later ook deur die Duiwel se aanhitsing tot die mens op aarde sou deurdring.

Na alle waarskynlikheid was dit ʼn aansienlike getal engele wat geval het en wat onder leiding staan van ʼn listige hoof, Satan. Kyk na sy optrede: hy weet (Paradys), in die versoeking in die woestyn toon hy homself ʼn geniale veldheer. Hy probeer mense verblind vir die boodskap van die evangelie (2 Kor. 4:4); in die saailand van die wêreld saai hy die onkruid (Mt. 13:38) en neem die goeie saad weg wat in die hart van die mens gesaai is (Mt; 13:19); hy versprei afvallige leerstellings (1 Tim. 4:2) en val gelowiges met listige aanslae aan (Efés. 6:11).

Satan beteken letterlik “teenstander”. Diabolos (Grieks) word weergegee met Duiwel en beteken “lasteraar, een wat alles deurmekaar krap; aanhitser, aanklaer”. Ander name vir hom is die bose, Belial, vors van bose magte, slang (van ouds), owerste of god van hierdie eeu of wêreld, vader van die leuen en mensemoordenaar (2 Kor. 6:15; Openb. 12:10; Joh. 8:46; 12:31; 2 Kor. 4:4; Efés. 2:2).

Die eerste sonde vind plaas in die engelewêreld (Joh. 8:44). ʼn Groot groep engele het saam met die Duiwel ongehoorsaam geword (2 Petr. 2:4; 1 Tim. 5:21; Jud. 6). Hierdie sondeval was eenmalig en finaal; ná hierdie val was daar nie nog ander engele wat geval het nie; en die wat geval het, kan hulle nie van hulle sonde bekeer nie. Die gevalle engele is uit die hemel gedryf. Hulle voer ʼn stryd teen Christus en sy Kerk. Tog gaan leuen en dood saam met die ewige verdoemenis vir die Duiwel en die syne. Hulle kennis blyk ook daarin dat die demone in die besetene weet wie Christus is en wat Hy kom doen.

Die artikel van die NGB is hier breedvoeriger oor die Duiwel en sy trawante as oor die goeie engele. Dit weerspieël die stryd van Guido de Brès te midde van inkwisisies, brandstapels, bloedige vervolginge en verdrukkinge, wat hy en sy manne daagliks belewe het. Hierdie sombere klanke oor die mag van Satan weerklink in hulle harte. Dit vergelyk met die hewigheid van die aanslae op die gelowiges telkemale wanneer die feit van Christus se finale oorwinning oor Satan akuut belewe word en sal ook eenmaal weer hewiger word en die worsteling al moeiliker namate die koms van Jesus Christus al nader kom en die tyd vir die optrede van Satan gevolglik al korter word.

Die trou van die uitverkore engele (1 Tim. 5:21)
Die wonderlike van die genade is dat daardeur ʼn groot groep engele staande gebly het in die posisie waarin God hulle geplaas het en getrou voortgearbei het aan die taak wat God hulle opgedra het. Anders as wat die geval is met mense, is daar by die engele – wat gehoorsaam gebly en met die goeie volhard het – nie sprake van sonde nie. Hulle bly soos God hulle eenmaal geskep het, naamlik goeie betroubare boodskappers.

Die groepname van engel of klasse, verskillende range
Onder die engele is daar ʼn groot verskeidenheid in rang en stand, in waardigheid en diens (Efés. 1:21):
            Gerubs, ((Gén. 3:24, op afbeeldinge in die tabernakel en tempel,Eségiël, Openbaring (bewakers)).
Serafs, Jes. 6 (wakers oor die heiligheid van God).
Trone, magte, owerhede,herskappye, kragte, Kol. 1:16 AB 1953. Geen inligting hieroor nie, AB 1983 konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.

Engele by name genoem
            Gabriel: Dan. 8:16, by Sagaria in die tempel en by Maria, Lk. 1
            Migael: Dan. 16:13, 21; 12:1; Jud. 9; Openb. 12:7.

Getalle van engele
            Jesus sê hy kan bid om twaalf legioene van engele wat die Vader kan stuur (Mt. 26:53).

Nota: Die naam Engel van die Here in die Ou Testament is baie keer ʼn manifestasie van die Seun en behoort onderskei te word van ʼn engel van die Here.

Verhouding van die Seun tot die engele
A.   Engele is deur die Seun geskep, Kol. 1:16. Hulle is onder Hom, bestaan deur Hom en Hy is die Hoof van die engele soos Hy die Hoof is van die hele skepping. Dit geld nie meer die engele wat onder ʼn aartsengel afvallig geword het nie (al is hulle tog ook deur Hom medegeskep).

B.    Engele dien die Seun
            Gabriël kondig sy koms aan (Lk. 1).
            Hemelse leërskare in die Bethlehemsvelde (Lk. 2).
            Die engele dien Hom na die versoeking van Mt. 4:1-11; Lk. 4:1-11.
            In Getsemane word Christus deur ʼn engel versterk.
  By die opstanding en hemelvaart is daar engele wat ʼn troosboodskap aan die dissipels bring.
            Die engele dien Hom as Hoof.

C.   Engele sal in die oorwinning van die Seun deel; asook in die stryd wat teen die afvallige engele gevoer word.

Die diens van die engele
A.    Buitengewone diens
(a) O.T. Die engel van die Here met twee engele op besoek by Abraham oor Sodom en Gomorra.
              Jakob sien by Betel die engele op en af gaan.
              Engele by die wetgewing op Sinai (Hand. 7:53 en Gal. 3:19).
              Migael stry om die “vors” (afvallige engel) van die hof van Persië te beïnvloed.
(b) N.T. Reeds gemeld in B hierbo. Hulle begelei alle hoogtepunte in die lewe van Christus.
(c) By die wederkoms van Christus (Mt. 16:27; Thes. 1:17; Mt. 13:41, 49; 24:34) en die engele werp die goddeloses in die vuuroond.

B.        Gewone diens
(a) Hulle loof en prys God as hulle diens in die hemel (Jes. 6:1 en die Ons Vader gebed). Hulle is God se bodes en gesante.
(b) Hulle help die gelowiges. Hulle is dienende geeste terwille van die gelowiges (Hebr. 1:14); hulle beleef vreugde by die bekering van sondaars; hulle waak oor die gelowiges. Let Wel: die r.k. teorie dat elke mens ʼn beskermengel het, is nie Bybels ondersteun nie, vgl. Mt. 18:10.
(c) Hulle stel belang in die verlossingswerk (1 Petr. 1:12; Efés. 3:9-10). Hulle stry met Christus mee vir sy Kerk teen Satan (vgl. 2 Kon. 6:16-20). Hulle dra die gelowiges by hulle dood na die skoot van Abraham.

Nota: 1 Veral Daniël 10 en Openbaring 12 gee twee skrefies waar die sluier ʼn bietjie gelig is oor die hemelse gebeure.
          2 Die r.k. teologie skep 3 hiërargieë van 3 groepe van engele en verbreek die soberheid van die Skrif oor die engele.
          3 Die r.k. aanbidding van engele het geen steun in die Skrif nie.
          4 Kom ons waak daarteen dat ons die bestaan van engele prakties loën dat ons nooit aan die diens en stryd van God se engele dink nie. Laat ons die stryd van geloof volhou in die dankbare besef dat God se diendende geeste medewerkers is aan ons uiteindelike heil (verwysing weer na die Ons Vader gebed).

Dwaalrigtings
1.    Sadduseërs: Loën bestaan van engele (geeste) en duiwels vanuit hulle praktiese materialisme, al beweer hulle daarvan staan niks in die Wet van Moses (Gén. tot Deut.).
      
2.    Manigeërs (Mani 215/6-276/7): Leer ʼn ewige dualisme van ʼn goeie God met goeie engele wat staan teenoor ʼn bose god met bose engele (wat die boosheid in hulself het) en dan glo hulle in die ryk van lig wat staan teenoor die ryk van die duisternis. Satan is dus ʼn god, wel ʼn anti-god.

3.    Na De Brès is daar mense wat geleer het –
       (a)            dat die engelegeloof ʼn surrogaat is vir ʼn verlore politeïsme;
(b)   dat die engelegeloof eintlik “nonsens” is en in ʼn kinderkamer uitgeban moet word;
(c)   dat die engelegeloof ʼn primitiewe volksgeloof is; en
(d)   Karel Barth leer dat die engele nie kon sondig en val nie. Die Duiwel en sy magte is dus chaosmagte wat ʼn inbreek maak op die skepping – ʼn moderne dualisme.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

  2024 Dis alweer die begin van n nuwe jaar al voel dit of 2023 net 6 maande lank was. Die skole het begin en ons gemeente aktiwiteite het...