Thursday, 18 October 2018

Let op die twee Kersuitnodigings hier onder





Thursday, 6 September 2018

DIE DRIE-EENHEID - saamgestel en geskryf deur Prof Fanie Riekert


Die Kennis van God as die Drieënige – opklaring oor die kennis

God is die onbegryplike.  As dit nie so was nie, sou Hy nie God of die Aanbiddelike kon wees nie.  Immers, die eindige kan die Oneindige nie omvat nie.  Hieruit het baie die oorhaastige gevolgtrekking gemaak dat God om die rede ook onkenbaar is.  Maar as God geheel en al onkenbaar was, sou ons ook geen reg gehad het om te beweer dat Hy onbegryplik is nie.  Wie enigiets oor God wil bely, moet Hom ken.  So nie is die inhoud van die belydenis uit die lug gegryp.

Ons ken God, soos ons nou weet, uit die feit dat dit Hom behaag het om Homself aan ons te openbaar en van hierdie selfopenbaring van  God is die Heilige Skrif die enigste en volstrek betroubare oorkonde.  Dit beteken dat ons God ook net kan ken vir sover as wat die Openbaring strek en enkel uit die Heilige Skrif.  Wie meer wil weet, is dwaas en goddeloos.

Uit die voorgaande kan ons aflei dat daar twee eienskappe is wat aan alle waaragtige Godskennis toekom.  Die eerste word gewoonlik uitgedruk met die enigsins vreemde term:  Inadekwaat.  Daarmee wil ons te kenne gee dat ons God nooit ten volle kan ken nie.  Soos wat God Homself ken, kan geen sterweling op hierdie aarde Hom ken nie.  Maar ‘n ander ewe fundamentele eienskap van die Godskennis waaraan ons moet vashou is die waarheid en die betroubaarheid daarvan.  Dit is inderdaad so dat ons van die grote God maar heel weinig weet, ja dat Hy ons begrip, ons taal, selfs ons aanbidding oneindig ver te bowe en te buite gaan.  Van beide Gods Openbaring in die natuur en die Skriftuur geld die treffende woorde van Job aan die einde van hoofstuk 26:  Kyk, dit is maar uitlopers van sy weë, en wat ‘n fluisterwoord hoor ons maar van Hom!  Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?

Aan die ander kant – en dit is van net soveel betekenis – is hierdie kennis suiwer.  Dit wil sê, sover as wat dit strek, kan ons op hierdie kennis bou.  God self en die waarheid en betroubaarheid van Sy Woord is hiervoor die waarborg.  Ons kan derhalwe met vrymoedigheid beweer dat hierdie onvoldoende Godskennis die mees betroubare kennis is waaroor die mens op aarde kan beskik.  Dit kan groei en eenmaal oorgaan in aanskouing maar verander kan dit nooit.  Wat ten dele is, kan en sal volkome wees, maar ons Godskennis sal nooit die diepte van God kan peil of omvat nie.

Dit is verder van groot belang om te onthou dat ons tans in die bedeling van die sonde leef.  Om die rede is die ware kennis van God geen algemeen menslike verskynsel nie.  Maar daar is nog twee eienskappe van die ware kennis van God waarop ons baie sterk die aandag moet vestig.  Die eerste is dat ons hierdie kennis deur die geloof deelagtig word en ook uitsluitlik deur die geloof.  Dit is altyd ‘n kennis in die aangesig van Christus Jesus, onse Here.  Sy woorde is en bly waar:  Niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie.  En verder:  Wie my gesien het, het die Vader gesien.  God is geopenbaar in die vlees en slegs diegene wat Hom in Christus Jesus as God en Vader leer ken, weet waarlik wie God is.  Nie uit die ervaring in die ruimste sin van hierdie woord nie, maar deur die gelowige aanvaarding van wat geskrywe staan, weet ons wie God is en ook dat Hy bestaan.  En hiermee hang onmiddellik saam ‘n ander spesifieke eienskap van ons kennis van die Here God.  Dit is naamlik lewend en persoonlik.  Dit raak die hart en so die hele mens.  Dit is onmoontlik om God te ken met ‘n koele, afgetrokke en onbewoë kennis.  Dit stel ons altyd in ‘n lewende persoonlike relasie.  Wie God ken, ken ook die vrese van die Here en hierdie vrese is ‘n diepe en heilige ontsag.

  Dit beteken dat ons God nie deur die geloof, as algemeen menslike vermoë leer ken nie, maar wel en uitsluitlik deur die saligmakende geloof, wat die skuldvergiffenis deur die soendood van die Heiland insluit.  En as ons hier spreek van insluit, dan bedoel ons dit in die sin dat ook dit nie abstrak en in die algemeen verstaan mag word nie.  Dit gaan oor my persoonlike versoening met God deur die kruis van Sy Seun.  So, en so alleen kan daar van ware Godskennis sprake wees.  Dit sal eerder beteken dat die woord vir die gelowige nie maar ‘n boek is vol van allerhande godsdienstige wetenswaardighede, waaronder ook inligting oor die Persoon, die Wese en die werke van God nie.  Dit is ‘n lewende boek, waarin die sprekende God ons self teëkom.  Dit is, soos wat iemand dit gestel het, die Boek van ontmoetinge.

Dit behoort tans vir ons duidelik te wees in watter sin daar vir die ware Christenmens sprake kan wees van die kennis van God.  En so sal ons ook verstaan dat die “god” van die filosowe vir ons ‘n afgod is, tensy dat ons wysbegeerte en wetenskap begin met die vrese van die Here, waarin die beginsel van die wysheid is.  Maar in so ‘n geval word daar ook nie oor God gefilosofeer nie.  Selfs die teologie moet hier uiters versigtig wees sodat die aanbiddende grondstemming nie verwaarloos word nie.  Ons het dit immers met die lewende God te doen.  En van Hom geld die woord uit Job:  Oor God is daar ontsagwekkende majesteit.

God is wel kenbaar vir die mens maar slegs uit Sy Selfopenbaring en deur die geloof.  Aan hierdie waarhede moet ons vashou as ons met vrug oor die Drie-eenheidsleer wil handel.  Ons het dit hierin te doen met ‘n ou en beproefde belydenis van die Kerk, ‘n belydenis waarin ons in die geloof probeer om rekenskap te gee van wat die Woord leer.  Met ander woorde die Kerk probeer om agterna te sê wat die Skrif aan ons voorhou en dit sonder enige poging om die onbegryplike begryplik te maak.

Dit is ook van belang om te onthou dat die Kerk hierdie leerstuk geformuleer het in sy stryd om die handhawing van die Bybelse waarheid teenoor die dwaling in baie vorme.  En ook in die eeue wat gevolg het, is aan hierdie waarheid telkens weer vasgehou om te voorkom dat dwaalleraars die grondwaarhede van die Skrif vervals.  Wil ‘n mens derhalwe die volle betekenis van die drie-eenheidsleer, soos deur die Kerk bely, ten volle waardeer dan moet jy eintlik van baie leerdwalinge deur die eeue heen kennis neem.  So ‘n poging kan ons egter nie hier onder neem nie.

Die Drie-eenheid – opklaringe oor die misterie

Op nog een saak moet vooraf die aandag gevestig word:  As die Kerk hier spreek van een Wese en drie Persone en verder van onmededeelbare eienskappe, waardeur die een Persoon van die Ander onderskeie is, dan was die Kerk daar altyd helder van bewus dat hierdie woorde vol is van menslike tekortkominge en nie instaat is om presies te sê wat die Kerk begerig is om te bely nie.  Aan die ander kant is die Kerk egter net so sterk deurdronge van die besef dat niemand nog daarin geslaag het om die Godsopenbaring in hierdie verband beter en meer duidelik tot uitdrukking te bring nie.  Nog meer:  Die ervaring deur baie eeue van dogmavorming en ontwikkeling het bevestig dat oral waar aan die aloue formule getorring is, die waarheid van die Skrif per slot van rekening geweld aangedoen is.  Ons herhaal derhalwe die ou beproefde waarheid in die bekende woorde van die Nederlandse geloofsbelydenis (artikel VIII):  Volgens hierdie waarheid en die Woord van God, glo ons in ‘n enige God, ‘n enige wese waarin drie persone is, inderdaad en werklik en van ewigheid onderskeie volgens hulle onmededeelbare eienskappe:  naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Bostaande verg eintlik ‘n nadere verduideliking van drie belydeniselemente, t.w. die Wesenseenheid, die Persoonsonderskeiding en die onmededeelbare eienskappe.  Daarby gebruik ons met opset die woord “belydeniselemente” om daarmee nog eens te kenne te gee dat ons nie wil verklaar en deurgrond nie, maar slegs wil weet en ken uit die Skrifte. 

Eers handel ons slegs oor die wesenseenheid en ons volstaan met ‘n enkele sitaat:  “Duidelik blyk dit uit die feit, dat die Seun ook meermale Jehowa, dit is, Here of “Hy is wat Hy is”, genoem word.  Jesaja het die God van die leërskare sien sit op ‘n troon (6:1).  Dit was ongetwyfeld die Jehowa, van wie Moses sê, dat Hy ‘n enige God is (Deut. 6:4).  Johannes verklaar egter, dat dit die Christus was (12:41).  God roep deur die mond van Jesaja:  Ek leef.  Voor My sal elke knie buig.  (45:23)  Paulus pas egter hierdie gesegde op Christus toe (Rom. 14:11,  Fil. 2:10).  Verder beroep Calvyn hom op Jes. 8:14 in verband met Rom. 9:33 en 1 Petrus 2:7; op Ps. 68:19 in verband met Efes. 4:8; op Ps. 102:26 in verband met Hebr. 1:10.  Daaruit volg dat onder die naam van God die ganse Goddelike Wese aangedui word, wat aan die Seun en aan die Gees met die Vader gemeenskaplik is.  Daarom kan ook van die Seun, op Homself en buite betrekking tot die Vader gesien, en ten volle gesê word, omdat God se Wese eenvoudig is, dat Hy God uit Homself is, maar met betrekking tot die Vader gesien, geld die Vader as die oorsprong van die Seun.  Die enige, eenvoudige Wese van God sluit in dat alles wat die Vader as God is, ook van die Seun en van die Heilige Gees op dieselfde wyse geld.”  (A.D.R. Polman:  Onze Nederlandse Geloofsbelydenis, Deel I, p.295, vertaal.)

Laat ons ten slotte nog eens bely:  Wat hier in belydenistaal benader word, is geopenbaarde misterieë.  Omdat hulle geopenbaar is, is hulle kenbaar.  Maar omdat dit misterieë is, bly hulle onbegryplik, ja aanbiddelik.  Ons het gesien dat die kerklike belydenis leer dat daar in God een Wese is onderskeie in drie Persone en wel volgens hulle onmededeelbare eienskappe.  Hierin het ons die suiwerste belydenis met betrekking tot hierdie aanbiddelike misterie wat ooit in mensetaal geformuleer is.  Aan die einde van die bespreking behoort elkeen  in die eerste instansie getref word deur die feit dat ons dit hier nie met ‘n poging te doen het wat wil deurgrond en verklaar nie.  Van rasionele deursigtigheid kan hier uit die aard van die saak geen sprake wees nie.  Wat hier wel op die spel is. is ‘n poging om te bely wat aan ons geopenbaar is.  En hierdie naspreke van die Heilige Skrif is noodwendig ‘n stamelende spreke.  Die einde daarvan kan net een ding wees en dit is aanbidding.  Wie God nie so bely nie, vervaardig afgode.  En dit beteken dat die nederige, aanbiddende en suiwere belydenis van God as drie-enig ons beste wapen is teen afgode en valse godsdiens.Wat die geopenbaarde dinge van God betref, kan met reg gesê word:  “Ons kan dit in die geloof sien sonder om te oorsien of te deursien.  Maar as belydenisstuk mag dit nie in ‘n skolastieke trant met die hoogmoedige rede van die mens ontleed word nie.”  Ook hier is dit veral Calvyn en sy geesverwante wat gedurig waarsku teen die oormoed en aanmatiging van diegene wat meer wil weet as wat sterwelinge betaam.  Vir elkeen wat egter bereid is om te lees wat geskryf staan, sal dit egter duidelik wees dat daar maar een enige waaragtige God is.  Nou  oor die drie Persone dus verder.  Hier volg die verduideliking van Calvyn:  “Persoon noem ek ‘n selfstandigheid in die Wese van God, wat in betrekking tot die ander, deur ‘n onmededeelbare eienskap onderskei word.  Deur die woord selfstandigheid wil ons iets anders verstaan as die Wese.  Want indien die Woord eenvoudig God was en ondertussen niks eie het nie, dan sou Johannes verkeerd gesê het, dat Hy altyd by God was. Maar omdat Hy by God nie kon wees sonder om in die Vader te wees nie, ontstaan hier die selfstandigheid, wat, ofskoon dit deur ‘n onafskeibare band met die Wese verbonde is en daarvan nie  geskei kan word nie, tog het elkeen ‘n spesiale eienskap, waardeur Hy van die ander  onderskei  word.  Nou sê ek, dat elkeen van hierdie selfstandighede met betrekking tot die ander deur ‘n eienskap onderskei word.  Die betrekking word hier duidelik uitgedruk, want as daar onbepaald en sonder meer van God melding gemaak word, behoort die naam nie minder aan die Seun en die Gees as aan die Vader nie.  Sodra tog die Vader met die Seun vergelyk word, onderskei sy eienskap Hom van die ander.  In die derde plek beweer ek, wat aan niemand in die besonder eie is, nie onmededeelbaar is nie, omdat wat op die Seun nie uitsluitlik kan pas en toegeken word nie, kan ook nie as ‘n teken van onderskeid aan die Vader  toegeken word nie.” 
Fig 1(a)
Prof JA Heyns gebruik sirkels om die uiteensetting oor die Drieëenheid te illustreer;  skrywer gebruik driehoeke.

In fig 1 (a) stel die swart baan of lyn die Vader voor, liggrys die Seun en donkergrys die Heilige Gee.  ‘n Paar sake is hier van belang:  verskillende lyne is hier gebruik.  Vader, Seun en Heilige Gee is verskillende Persone en die drie is nie identies nie.  Elk is ‘n selfstandigheid, maar elk het ‘n spesiale eienskap waardeur Hy van die ander onderskei word.  Ons noem dit die onmededeelbare eienskappe.  Die drie lyne bedek die volle sirkel.  Vader, Seun en Heilige Gees het al drie deel aan dieselfde Goddelike Wese.  Daar is ‘n verweefdheid van die lyne wat illustreer dat hulle van mekaar onderskei is, maar hulle vorm steeds ‘n eenheid.  Vader, Seun en Heilige Gees is nie identies nie, en tog vorm hulle só ‘n eenheid dat, as één van die Persone met sy spesifieke werk besig is, die ander twee nie afwesig is nie.
                                                               

                                                            
        Fig 1 (b)                                   Vader
                             
Seun                                                                Heilige Gees

In fig 1(b) stel elke hoek ‘n Persoon van die Drieëenheid voor.  Elke een onderskei Hom van die Ander deur sy onmededeelbare eienskappe.  Daar is geen grense ingetrek wat sê die godheid van elkeen is beperk nie.  Dit simboliseer i dat as een van die Persone met sy spesifieke werk besig is, die ander twee nie afwesig is nie, en ii dat die drie Persone met mekaar verweefd is, en iii dat aldrie deel het aan dieselfde Goddelike Wese.

Wanneer ons so die gesonde leer kan voorstel, is dit makliker om afwykings daarvan te illustreer.  Baie afwykings ontken die Drie-eenheid. Sabellius het ‘n merkwaardige beskouing oor die Goddelike Drieëenheid ontwikkel wat selfs vandag nog nagevolg word.  Uitgaande van die eenheid van God, het Hy Hom agtervolgens in die loop van die tyd as drie Persone geopenbaar.  So ontplooi God Hom tot ‘n drieheid - Hy is nie drie in Homself nie.  Die drieheid is ‘n wisselende uitdrukkingsvorm van die Goddelike natuur.  Vir die lede van die drieheid gebruik hy die begrip persoon.  Die persoon van die Vader, Seun en Heilige Gees dui dan aan dat elkeen slegs ‘n verskyningsvorm is van die één Goddelike Wese, of dat elkeen slegs ‘n rol is wat die Godheid agtereenvolgens in die geskiedenis speel.  Die volgende diagram gee Sabellius se voorstelling die beste weer:






Fig 2

Die één ongedeelde, bo die tyd verhewe Godheid, openbaar Hom in die tyd histories ná mekaar:  eers in die persoon van die Vader, daarna trek Hy Hom terug en openbaar Hom dan as Seun:  trek Hom weer terug en openbaar Hom vervolgens as Heilige Gees.  Terwyl God dus die Vader is, is Hy nie die Seun of die Heilige Gees nie;  en terwyl Hy die Seun is, is Hy nie meer die Vader nie, en nog nie die Heilige Gees nie, en as Hy die Gees is, is Hy nie meer die Vader of die Sun nie.  Tans leef ons dus in die bedeling van die Heilige Gees.  By Sabellius is God nie na sy wése drie persone nie, maar net in sy openbáring.  Hier het ons dus nie ‘n wesenseenheid nie, maar net ‘n openbaringstriniteit.  Dit word ook ‘n prosoponele triniteitsbeskouing noem.
Fig 3(a)


Fig 3( b)

Die syfers 1, 2, en 3 stel die Vader, Seun en Heilige Gees voor.  Volgens hierdie voorstellings het elkeen van die drie Persone ‘n eie wese, maar vorm saam tog ‘n eenheid.  Hier is die drie Persone so onafhanklik en letterlik so ver van mekaar af, dat hulle elkeen ‘n eie god uitmaak.  Dit is die dwaling van die triteïsme of die driegodedom.


 Fig 4(a)     
 Fig 4(b)

Die syfers 1, 2 en 3 stel die Vader, Seun en Heilige Gees voor.  Hiervolgens deel al drie wel dieselfde wese, maar elkeen het nie deel aan die vólle wese nie, dog slegs aan een-derde van die geheel.  Ons kan die Drie-eenheid nie so voorstel nie.  Die Vader, Seun en Heilige Gees is nie elkeen slegs ‘n een-derde deel van God nie.  God kan nie gedeel of verdeel word nie.  Dit is ook ‘n dwaling wat onder die driegodedom kan tel.

Ons wil maar hier volstaan met ‘n aanhaling uit die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel VIII);  Volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God, glo ons in die enige God, ‘n enige wese waarin drie persone is, inderdaad en in waarheid en van ewigheid onderskeie volgens hul onmededeelbare eienskappe:  naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees.  Die Vader is die oorsaak en die begin van alle dinge, sigbare sowel as onsigbare;  die Seun is die Woord, die Wysheid en die beeld van die Vader;  die Heilige Gees die ewige krag en mag, wat van die Vader en die Seun uitgaan.  So nogtans dat hierdie onderskeiding nie teweegbring dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy selfstandigheid het wat onderskeie is deur sy eienskappe;  dog so dat hierdie drie Persone maar een enige God is.  So is dit dan duidelik dat die Vader nie die Seun is nie, en dat die Seun nie die Vader is nie, en dat ook net so die Heilige Gees nie die Vader is nie en ook nie die Seun nie.  Nogtans is hierdie drie Persone so onderskeie, nie gedeel nie en ook nie onderling gemeng nie.  Want die Vader het nie die vlees aangeneem nie, ook nie die Heilige Gees nie, maar die Seun alleen.  Die Vader was nooit sonder sy Seun of sonder sy Heilige Gees nie;  want hulle is aldrie gelyklik en ewig in een en dieselfde wese.  Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie;  want hulle is aldrie een in waarheid, in mag, in goedheid en barmhartigheid.



Ons wil ten slotte nog eens herhaal:  Om God te ken as die Drie-enige is iets anders as om Hom te deurgrond, te verstaan of selfs uitputtend te beskryf.  Hy spreek oor Homself en al die wonders van Sy Raad en ons spreek agterna, ook hierin as navolgers van God soos geliefde kinders.

Wednesday, 20 June 2018

Engele - saamgevat en geskryf deur Prof Fanie Riekert

Skepping van die engele (NGB art 12 (b))
N.a.v. Feenstra: Ons moet van die nie-liggaamlike skepping leer. Dit is vir ons ʼn skoon boek waarin alle skepsels soos letters is wat ons die onsienlike dinge van God gee om te aanskou. God gee aan die nie-liggaamlike skepping ʼn roeping om ons te onderwys. So het ons ʼn taak om die engele te onderwys. Hulle is begerig om in die dinge in te kyk (1 Pet. 1:12). Dan sien die engele in die Kerk die wondervolle weë van die Here: hoe God sy volk lei; hoe Hy die sondaars trek; hoe Hy deur sy Woord en Gees die geloof versterk. Wanneer die engele uitgestuur word om te help, sien die engele gelowiges op hulle knieë en die gebedsverhoringe van die kinders van God. Hulle leer al meer die veerkleurige wysheid van God.

Soberheid nodig
Calvyn beveel ook die reël van soberheid en matigheid aan, sodat ons aangaande die duistere onderwerpe nie anders spreek, gevoel of selfs verlang om te weet as wat deur die Woord van God gebied word en dit leer die ware, sekere en nuttige kennis om die gewetens te versterk.

Skepping van die engele
Gén. 1 vertel niks oor die skepping van engele nie. Tog het die Skepper dit goed gevind om nie net stof, plant, dier en mens te skep nie, maar ook geestelike, nie-liggaamlike wesens. Hulle is nie as beeld van God geskep nie – dit geld alleen die mens – maar wel met kennis en verantwoordelikheid. Hulle word engele  genoem. Uit Gén. 2:1-3 en Job 38:7 kan ons aflei dat die engele bes moontlik saam met die hemel (Gén. 1:1) geskep is, maar in elk geval voor die voltooiing van die skepping. Kol. 1:16 sê dat Christus by dié skepping teenwoordig was en dat “wat nie gesien kan word” of “onsigbare dinge” ingesluit word, nl. trone, heerskappye, owerhede en magte (AB 1953) of konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders (AB 1983), vgl. Joh. 1:1. Hierdie geskape engele is geestelike wesens met eie denke en wil. Hulle weet baie, maar nie alles nie. Wanneer die Heiland oor die dag en uur van die wederkoms spreek, verklaar Hy dat geen mens dit weet nie, ook nie die engele in die hemel nie (Mk. 13:32). Hulle kennis word blykbaar hoog aangeslaan, anders sou dit geen sin maak om te sê dat ook die engele in die hemel dit nie weet nie. Hulle het groot mag, maar hulle bly skepsels wat met groot ontsag voor God vervul is, gedienstige geeste wat bereid is tot sy diens.

Vergelyking van die engele met mense
Engele plant nie voort nie; mense wel.
Albei goed geskep, maar hulle kan wel val.
Ps. 8 leer dat ʼn mens weinig minder as die engele gemaak is; maar deur die verlossingswerk van Christus word die mens in Christus hoër as die engele (vgl. 1 Kor. 6:3; Heb. 1:5-13).

Die val van sommige engele
As God die wêreld goed geskep het, is die groot vraag waarvandaan kom die kwade in die skepping? Die antwoord lê in die leer oor die engele. Die oorsprong van die Duiwel en sy trawante is nie tot die skeppende dade van God te herlei nie. Hulle is geskep as engele – goeie engele wat nie aan hulle oorsprong getrou gebly het nie, maar gesondig het en vir die ewige verderf bestem geraak het (2 Pet. 2:4; Jud. 6). Hulle bly geestlike wesens, met ʼn skeefgetrekte sedelikheid en verantwoordelikheid. Wat die rede of aanleidende motivering vir hierdie opstand en verset teen God was, weet ons nie presies nie, maar dit lyk of dit ʼn poging was om God na die kroon te steek, om soos God te wil wees. In die hemel begin dus die sonde wat later ook deur die Duiwel se aanhitsing tot die mens op aarde sou deurdring.

Na alle waarskynlikheid was dit ʼn aansienlike getal engele wat geval het en wat onder leiding staan van ʼn listige hoof, Satan. Kyk na sy optrede: hy weet (Paradys), in die versoeking in die woestyn toon hy homself ʼn geniale veldheer. Hy probeer mense verblind vir die boodskap van die evangelie (2 Kor. 4:4); in die saailand van die wêreld saai hy die onkruid (Mt. 13:38) en neem die goeie saad weg wat in die hart van die mens gesaai is (Mt; 13:19); hy versprei afvallige leerstellings (1 Tim. 4:2) en val gelowiges met listige aanslae aan (Efés. 6:11).

Satan beteken letterlik “teenstander”. Diabolos (Grieks) word weergegee met Duiwel en beteken “lasteraar, een wat alles deurmekaar krap; aanhitser, aanklaer”. Ander name vir hom is die bose, Belial, vors van bose magte, slang (van ouds), owerste of god van hierdie eeu of wêreld, vader van die leuen en mensemoordenaar (2 Kor. 6:15; Openb. 12:10; Joh. 8:46; 12:31; 2 Kor. 4:4; Efés. 2:2).

Die eerste sonde vind plaas in die engelewêreld (Joh. 8:44). ʼn Groot groep engele het saam met die Duiwel ongehoorsaam geword (2 Petr. 2:4; 1 Tim. 5:21; Jud. 6). Hierdie sondeval was eenmalig en finaal; ná hierdie val was daar nie nog ander engele wat geval het nie; en die wat geval het, kan hulle nie van hulle sonde bekeer nie. Die gevalle engele is uit die hemel gedryf. Hulle voer ʼn stryd teen Christus en sy Kerk. Tog gaan leuen en dood saam met die ewige verdoemenis vir die Duiwel en die syne. Hulle kennis blyk ook daarin dat die demone in die besetene weet wie Christus is en wat Hy kom doen.

Die artikel van die NGB is hier breedvoeriger oor die Duiwel en sy trawante as oor die goeie engele. Dit weerspieël die stryd van Guido de Brès te midde van inkwisisies, brandstapels, bloedige vervolginge en verdrukkinge, wat hy en sy manne daagliks belewe het. Hierdie sombere klanke oor die mag van Satan weerklink in hulle harte. Dit vergelyk met die hewigheid van die aanslae op die gelowiges telkemale wanneer die feit van Christus se finale oorwinning oor Satan akuut belewe word en sal ook eenmaal weer hewiger word en die worsteling al moeiliker namate die koms van Jesus Christus al nader kom en die tyd vir die optrede van Satan gevolglik al korter word.

Die trou van die uitverkore engele (1 Tim. 5:21)
Die wonderlike van die genade is dat daardeur ʼn groot groep engele staande gebly het in die posisie waarin God hulle geplaas het en getrou voortgearbei het aan die taak wat God hulle opgedra het. Anders as wat die geval is met mense, is daar by die engele – wat gehoorsaam gebly en met die goeie volhard het – nie sprake van sonde nie. Hulle bly soos God hulle eenmaal geskep het, naamlik goeie betroubare boodskappers.

Die groepname van engel of klasse, verskillende range
Onder die engele is daar ʼn groot verskeidenheid in rang en stand, in waardigheid en diens (Efés. 1:21):
            Gerubs, ((Gén. 3:24, op afbeeldinge in die tabernakel en tempel,Eségiël, Openbaring (bewakers)).
Serafs, Jes. 6 (wakers oor die heiligheid van God).
Trone, magte, owerhede,herskappye, kragte, Kol. 1:16 AB 1953. Geen inligting hieroor nie, AB 1983 konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.

Engele by name genoem
            Gabriel: Dan. 8:16, by Sagaria in die tempel en by Maria, Lk. 1
            Migael: Dan. 16:13, 21; 12:1; Jud. 9; Openb. 12:7.

Getalle van engele
            Jesus sê hy kan bid om twaalf legioene van engele wat die Vader kan stuur (Mt. 26:53).

Nota: Die naam Engel van die Here in die Ou Testament is baie keer ʼn manifestasie van die Seun en behoort onderskei te word van ʼn engel van die Here.

Verhouding van die Seun tot die engele
A.   Engele is deur die Seun geskep, Kol. 1:16. Hulle is onder Hom, bestaan deur Hom en Hy is die Hoof van die engele soos Hy die Hoof is van die hele skepping. Dit geld nie meer die engele wat onder ʼn aartsengel afvallig geword het nie (al is hulle tog ook deur Hom medegeskep).

B.    Engele dien die Seun
            Gabriël kondig sy koms aan (Lk. 1).
            Hemelse leërskare in die Bethlehemsvelde (Lk. 2).
            Die engele dien Hom na die versoeking van Mt. 4:1-11; Lk. 4:1-11.
            In Getsemane word Christus deur ʼn engel versterk.
  By die opstanding en hemelvaart is daar engele wat ʼn troosboodskap aan die dissipels bring.
            Die engele dien Hom as Hoof.

C.   Engele sal in die oorwinning van die Seun deel; asook in die stryd wat teen die afvallige engele gevoer word.

Die diens van die engele
A.    Buitengewone diens
(a) O.T. Die engel van die Here met twee engele op besoek by Abraham oor Sodom en Gomorra.
              Jakob sien by Betel die engele op en af gaan.
              Engele by die wetgewing op Sinai (Hand. 7:53 en Gal. 3:19).
              Migael stry om die “vors” (afvallige engel) van die hof van Persië te beïnvloed.
(b) N.T. Reeds gemeld in B hierbo. Hulle begelei alle hoogtepunte in die lewe van Christus.
(c) By die wederkoms van Christus (Mt. 16:27; Thes. 1:17; Mt. 13:41, 49; 24:34) en die engele werp die goddeloses in die vuuroond.

B.        Gewone diens
(a) Hulle loof en prys God as hulle diens in die hemel (Jes. 6:1 en die Ons Vader gebed). Hulle is God se bodes en gesante.
(b) Hulle help die gelowiges. Hulle is dienende geeste terwille van die gelowiges (Hebr. 1:14); hulle beleef vreugde by die bekering van sondaars; hulle waak oor die gelowiges. Let Wel: die r.k. teorie dat elke mens ʼn beskermengel het, is nie Bybels ondersteun nie, vgl. Mt. 18:10.
(c) Hulle stel belang in die verlossingswerk (1 Petr. 1:12; Efés. 3:9-10). Hulle stry met Christus mee vir sy Kerk teen Satan (vgl. 2 Kon. 6:16-20). Hulle dra die gelowiges by hulle dood na die skoot van Abraham.

Nota: 1 Veral Daniël 10 en Openbaring 12 gee twee skrefies waar die sluier ʼn bietjie gelig is oor die hemelse gebeure.
          2 Die r.k. teologie skep 3 hiërargieë van 3 groepe van engele en verbreek die soberheid van die Skrif oor die engele.
          3 Die r.k. aanbidding van engele het geen steun in die Skrif nie.
          4 Kom ons waak daarteen dat ons die bestaan van engele prakties loën dat ons nooit aan die diens en stryd van God se engele dink nie. Laat ons die stryd van geloof volhou in die dankbare besef dat God se diendende geeste medewerkers is aan ons uiteindelike heil (verwysing weer na die Ons Vader gebed).

Dwaalrigtings
1.    Sadduseërs: Loën bestaan van engele (geeste) en duiwels vanuit hulle praktiese materialisme, al beweer hulle daarvan staan niks in die Wet van Moses (Gén. tot Deut.).
      
2.    Manigeërs (Mani 215/6-276/7): Leer ʼn ewige dualisme van ʼn goeie God met goeie engele wat staan teenoor ʼn bose god met bose engele (wat die boosheid in hulself het) en dan glo hulle in die ryk van lig wat staan teenoor die ryk van die duisternis. Satan is dus ʼn god, wel ʼn anti-god.

3.    Na De Brès is daar mense wat geleer het –
       (a)            dat die engelegeloof ʼn surrogaat is vir ʼn verlore politeïsme;
(b)   dat die engelegeloof eintlik “nonsens” is en in ʼn kinderkamer uitgeban moet word;
(c)   dat die engelegeloof ʼn primitiewe volksgeloof is; en
(d)   Karel Barth leer dat die engele nie kon sondig en val nie. Die Duiwel en sy magte is dus chaosmagte wat ʼn inbreek maak op die skepping – ʼn moderne dualisme.


Sunday, 13 May 2018

Sunday, 29 April 2018

Die Esensie van Jesus


"In chemistry He turned water into wine.
In biology He was born without a normal conception. 
In physics He disapproved the law of gravity by ascending into heaven.
In economics He disapproved the law of diminishing return by feeding 5000 men with two fishes and five loaves of bread. 
In medicine He cured the sick and the blind without administering a single dose or drug. 
In history He is the beginning and the end.
In government He said He shall be called wonderful counsellor, prince of peace.
In religion He said no one comes to the father except through Him. 

So who is he? He is Jesus. The greatest man in history. 
He had no servant yet they called Him master.
He had no degree yet they called Him teacher.
He had no medicine yet they called Him healer.
He had no army yet kings feared Him. 
He won no military battles yet He conquered the world. 
He committed no crime yet they crucified Him. 

He was buried in a tomb yet He lives today.

I feel honoured to serve Jesus!"

Friday, 10 November 2017

LIEF EN LEED: NGKERK UNIVERSITASRIF –  geskryf deur Herbie Marais

Eintlik is dit ‘n kontras, maar dis deel van elke gemeente se Afkondigings. Dit het dan twee soorte gebede tot gevolg, naamlik: dank- en smeekgebede. Die “lief” is die aangename deel, teenoor die “leed”, wat meestal onverstaanbaar is, maar dit spreek, tydeloos, tot elke hoorder of leser daarvan.

Ek het nog altyd gewonder watter gedagte dit by elke hoorder aktiveer as die leraar dit aan die kerkgangers voorlees? ‘n Geldige raaiskoot sal wees dat ‘n antwoord hierop sal verieer tussen: betrokkenheid (warmte) versus afsydigheid (koudheid). Hierteenoor is die betrokke gesin en vriende altyd emosioneel verbind tot deernis en meelewing.

Ja, ‘n lydende mag wonder en sonderlinge vrae stel: dit hou nie verband met abnormaliteit en het geen psigopatologiese betekenis. By wyse van ‘n metafoor: van die legkaartstukkies gaan ontbreek, sodat die betrokke patroon onvolwaardig sal wees. Dis die onverstaanbare, maar is gewis deel van menslike bestaan. Paulus vermaan ons as hy verduidelik dat ons nou nog in ‘n dowwe spiel kyk en ‘n raaiselagtige beeld sien (1 Kor. 13: 12). Geen persoon is daarop geregtig om altyd antwoorde op al sy/haar vrae te kry nie. (dis die legkaartstukkies wat ontbreek). Bepeinsing, oor betekenis, is ‘n soektog…dikwels weet ons nie waarna ons alles moet soek nie. Die boek Prediker soek ook na antwoorde op die diepste lewensvrae, ook op dié waarop die menslike wysheid nie ‘n antwoord het nie. Hartseer en lyding (hoe sinloos dit mag klink) is deel van ons lewe: soos geboortes en sterftes. Hierteenoor is daar ‘n “ewige waarheid”, naamlik: God is Alomteenwoordig.

Party lydendes ervaar hierdie realiteit as ‘n anomalie en kom in opstand en dit ontketen frustrasie en verset. Dis ‘n gemoedstryd wat varieer tussen woede en skuldgevoelens. Aanvaarding, van ‘n trauma, is nie vir elkeen ‘n ewe aanvaarbare belewing nie. Dis dan ook nie ongehoord / vreemd as krasse stellings en misnoeë tydens dié tyd (van rou emosies) uitgespreek word nie. (Dit word egter betwyfel of enige vermaning, in hierdie gemoedstoestand ‘n positiewe effek sal hê?) Of sulke weerbarstige gedrag sonde is, weet ek nie? Wat ek wil weet: weerstand ontlaai mettertyd. God is nogtans getrou om ons te vergeef as ons berou toon…en “teruggaan” om nie weer te sondig nie) Joh. 8: 11) (Dis ’n uitstaande verhaal van: vergifnis) Elke lydende bepaal self waarde in geloofsgroei. In enige pynlike ervaring moet verbande gelê word met ons begrip van God, want die sin van lyding kan slegs deur geloofsgroei bepaal word. In Paulus se brief aan die Fillipense sê hy dat God aan ons gedagtes die regte insig sal gee (Fil. 3: 15)

Elke lydende het ’n keuse. Die selfversekerde “ek” of die hulpsoekende. Nie twee mense sal dieselfde op hartseer en lyding reageer nie. Niemand word ook vooraf opgelei hoé om dit te hanteer nie. Daar sal ook nooit standaard riglyne of kits-oplossings beskikbaar wees nie, as gevolg van die uniekheid van elke mens. Hierteenoor is alle mense voor God: gelykwaardig, gelykbetekenend en gelykgeregtig. Dis ’n groot troos: wat eintlik beteken dat God van al ons omstandighede kennis dra: afgesien van posisie, status of belangrikheid. Hoe Hy op ons vrae, versoeke en versugtinge antwoord, is eintlik ’n misterie. Dalk lig Paulus die sluier hieroor op, as jy ons wil leer dat ons eendag alles sal sien soos dit werklik is, omdat ons nou net gedeeltelik ken. Hiervolgends is dit onbillik om te verwag dat God op almal ons hoekom-vrae oplossings moet gee.

Elkeen ken die “adres” van die beste toevlugsoord: dis die Krag en Trou van God. Daarom mag elkeen, wat gebroke is, na God gaan om te sê presies hoe hy/sy voel. Daar is sin in lyding as ons swaarkry (worsteling) ons vaster laat groei aan die trou van God. ’n Troos vir elke lydende is dat ons ons omstandighede alles by God mag uitpak (met Hom in gebed mag bespreek), want niks daarvan sal Hy nie kan hanteer of oplos nie; al moet ons dalk wag tot....”eendag” (1 Kor. 13: 12).

In retrospektief, op onaangename ervaringe in ons lewensloop, moet ons erken dat God ons nooit tot breekpunt beproef het nie, maar wel tot groeipunt. Dis ’n totaal andersoortige groeiproses, wat individueel sal verskil. Dit kan met baie soorte emosies gepaardgaan, wat ons kan ontwrig en selfs psigies siek kan maak.

In sulke tye is daar net EEN anker, wat as waarborg kan dien, vir ons geloof en herstel, en dit is die “NOGTANS-versekering”. Met ander woorde: al is ons omstandighede hoe donker...NOGTANS bly God dieselfde. (Die “NOGTANS-versekering” is ’n betroubare toets vir ons geloof). Dit word in Habakuk se gebed weerspieël waarin hy onder andere bely dat hy: NOGTANS in die Here sal jubel en juig: afgesien van die donker prentjie waarna hy verwys (Hab. 3:18). Dis dan ook my beskeie gebed, dat elkeen wat direk of indirek geraak word, vir wie weekliks voorbidding gevra word, deur ons Vader gelei sal word om met “NOGTANS-krukke” toegerus te word.

Dikwels is ’n trauma ’n eindpunt, maar amper teenstrydig hiermee ook ’n beginpunt: ’n nuwe fase. Hierdie besef ontsluit Goddelike krag, wat aan ons heelbaarheid weer vorm en rigting gee. Dit belig ’n nuwe begin en nuwe pad waarop ons die versekering het dat God ons Herder is (Ps. 23). Met ander woorde, God se liefde en genade leef voort, want Hy gee die Ewige lewe in Jesus Christus ons Here.

Wat was my inspirasie om hieroor te skryf? Die weeklikse Afkondigings en ds Willie Badenhorst se boodskap op 24 September 2017. “ DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS WORD SIGBAAR TEENOOR GOD EN MEDEGELOWIGES” uit Ef. 4: 32 en Kol. 3: 1-21. Die inhoud was aangrypend en veelseggend en eintlik ’n indirekte “opdrag” aan elkeen van ons. Reëel verwag God van ons om op genade (aan ons bewys) doelgerig teenoor medemense te handel. God se evangelie, van genade, moet in ons emosies en lewe wortelskiet, groei en veelvuldig vrugte dra. Dis ’n opdrag.

Ds Willie het ook na die omgeegroepe se funksie verwys, ten opsigte van omgee en betrokkenheid. ’n Resente praktiese voorbeeld hiervan is toe Bennie, wat langs my gesit het, in ‘n “tipe koma” was. Die volgende oomblik was daar twee dames by my (ek het langs die paadjie gesit). Hulle erns, warmte, opregtheid en vrywillige dienslewering, op hulle knieë, in hulle kerkdrag, om Bennie by te bring...het ’n uitsonderlike filantropiese indruk op my gemaak. Later het ’n derde een bygekom. Spesiale dokters: gemeet aan die toename van egosentrisme en gierigheid. So ’n gebaar is PRAGTIG en maak my bewoë, maar ook so DANKBAAR, en trots op die drie geneeshere, wat aan my geheel onbekend is. (Ds Willie, u is geseënd met genoeg voorbeeldige lidmate in die Rif).

Die laaste deel van ds Willie se preek, het my laat nadink oor my eie grafiese voorstelling van Genade: as ’n onderstebo hoofletter T. Die vertikale lyn verteenwoordig God se genade wat ons (onverdiend en onbeperk) ontvang (Joh. 1: 16). Die horisontale streep verteenwoordig God se opdrag dat ons Sy genade, teenoor mekaar (links en regs) moet uitleef. Voorbeelde hiervoor kom talryk in die Bybel voor, vergelyk ook ds Willie se verwysings: Kol. 3: 18-24. (My gebrekkige poging, om Genade te probeer beskryf (my eindproduk) is op aanvraag beskikbaar).

Van bogenoemde sinne is woordeliks geneem uit my (anonieme) geskrif: MY OPREGTE MEEGEVOEL MET ELKEEN WAT TREUR. Dit het ek geskryf na die tragedie in die parkie. Ek het dit geraam en daar gaan plaas. (Ingeval iemand dit dalk daar gelees het).

Beknopte agtergrond hiervoor: Ek is deur Gerhard, eerste, genader vir uitkenning (net na die treurspel) omdat hy daarvan bewus was dat dame-studente by my woon. Uiteraard was dit vir my ‘n baie hartseer ervaring, gevolglik het ek daarvoor troos gesoek. Gevolglik het ek (soos al in my verlede) geskryf, omdat dit vir my terapeuties is. (Dit bring vir my ’n gewyde berusting en veranker my met die Drie-eenheid).

Mag elkeen hierdie “gedagtepraat” gebruik om sy/haar visie te verbreed, om die onsienlike te probeer begryp, tot meelewing, en nie ophou om vrugte te dra nie (Jer. 17: 7, 8) en te doen wat daar te doen is, as ’n gawe van God.

Belangrik: Hierdie is geen kritiek of verbetering op ds Willie se preek nie; dit was uitstekend. Dit dien net as bewys dat die inhoud van die boodskap so bindend was dat dit nie vir my by ds Willie se: “mag dit so wees” (Amen) opgehou het nie. Ek kon die volgende dag nog daaroor peins, met hierdie pennevrug.

Naskrif: Ons hier in die Rif gemeente is geseënd met ’n prediker wat nou al amper vir drie dekades (DV Augustus 2018) onafgebroke met ’n standaard van uitsonderlikheid, ons harte (of dan myne) aanraak.
Baie dankie ds Willie vir u mooi voorbeeld en professionele optrede.


Herbie Marais